Bejaarde inwoners in Worcester is nou behoorlik moeg vir Sassa se stadige en soms onvoldoende diens.
Volgens ’n 70-jarige inwoner, wat verkies om nie haar naam te noem nie, sukkel sy nou al langer as ’n jaar om die volle bedrag te kry wat bejaardes moet kry.
“Ek kry al vir tien jaar die toelaag vir bejaardes. Maar omdat my man nog daai tyd gewerk het, het ek nie vir die volle bedrag gekwalifiseer nie. Hy het verlede jaar afgetree en ek sukkel nou om die volle bedrag te kry.”
Verder verduidelik sy dat haar dokumente nooit voldoende is nie omdat sy aanmekaar nooit die regte inligting kry nie.
“Een dag word jy gesê jy moet dit bring, of daai is nie reg nie. Dit gaan elke keer so. Niemand kan ooit eenkeer vir jou sê wat jy alles moet saambring nie,” verduidelik die gefrustreerde inwoner.
Sy deel ook haar misnoeë oor hoe min mense op ’n dag gehelp word.
“Maandae is dit die bejaardes se beurt vir aansoeke by die Sassa-kantoor. Mense staan al van so vroeg as 05:00 in die ry. Daar is dae wat daar net tien mense gehelp word, maar daar is dalk 80 in die ry. En wanneer dit naby toemaaktyd kom, stuur hulle die res van die mense huis toe.”
’n Ander inwoner is van mening dit is onregverdig van die staat om van bejaardes te verwag om in sulke lang rye te staan.
“Jy kan nie dat oumense so aanmekaar loop nie. Hoe verwag jy iemand van 70-jarige ouderdom moet vir ure en ure in ’n lang ry staan? Bejaardes is deel van ons land se kwesbare groep. Hulle moet mooi na omgesien word, en dít wat Sassa doen, is onregverdig teenoor hulle. Hoekom kan hulle nie reël dat mense uitgaan na die gemeenskappe nie – hulle doen dit dan vir mense wat op plase woon.”
Volgens Shivani Wahab, Sassa se direkteur van bemarking en kommunikasie, help Worcester se Sassa-kantoor tussen 80 en 120 mense per dag.
“Sassa hou streng by die Covid-19-werkplekprotokol. Elke kliënt word voorsien van ’n afspraak om dienslewerings-kontinuïteit te verseker. Kantore skei kliënte volgens toelae-tipe en die afspraakstelsel is om te verseker dat elke kliënt behoorlik bygestaan word. Sassa het verder datums vir die betaling van maatskaplike toelaes geskei om ons ouer en gestremde kliënte eerste in die betalingsiklus te plaas. Dit is ook ingestel as ’n maatreël om oorbevolking by kontakpunte te verbeter en die risiko van Covid-19 te verminder,” verduidelik Wahab.
Talle inwoners voel egter die plaaslike Sassa-kantoor is onderbeman.
“Soms is daar net drie mense in die kantoor wat werk. Hoewel hulle baie behulpsaam is, werk hulle baie stadig. Ek stel voor hulle stel meer mense aan sodat meer mense werklik op ’n dag gehelp kan word,” sê die 70-jarige inwoner.
Volgens Wahab is die personeel by die kantoor voldoende, maar is van hulle soms siek of met verlof.
“Die bejaardes kry voorkeur; dis hoekom hul dag eerste in die week is.”
Bejaardes moet aan die volgende vereistes voldoen en hierdie dokumente saamneem wanneer hulle om toelae aansoek doen:
. Die aansoeker moet ’n Suid-Afrikaanse burger, permanente inwoner of vlugteling wees.. Moet nie minder as 60 jaar oud wees nie.. Die aansoeker moet nie ’n ander maatskaplike toelae vir hom of haarself ontvang nie.. Die aansoeker en eggenoot moet aan die vereistes om vir ’n Sassa-toelaag te kwalifiseer, voldoen.. Die aansoeker moet nie in ’n staatsinstelling onderhou of versorg word nie.. Die aansoeker moet ’n 13-syfer-strepieskode-identiteitsdokument, drie maande se bankstate, ’n huweliksertifikaat (indien die aansoeker getroud is), asook bewys van verblyf indien.

