Talle bejaarde breiers van Huis Lafras Moolman-aftreeoord in Rawsonville het die afgelope week die hart van verskeie verswakte inwoners van die tehuis – én hul lywe – warm gemaak.
Die storie het reeds in Mei vanjaar begin toe Hetta de Villiers met ’n sak “weeswolle” by die tehuis besoek afgelê het met die versoek “kyk wat julle hiermee kan maak”.
Die behoefte is raakgesien om kniekomberse vir behoeftiges te brei, maar hiervoor sou dit nie genoeg wol wees nie.
Een van die inwoners, wat die projek ter harte geneem het, het gebid vir leiding hieromtrent.
Sy het dus haar maandelikse dankoffer geneem en die geld na ’n winkel gestuur wat sulke projekte help teen kosprys vir wol.
Tot haar groot vreugde het die personeel daar die aankoop van haar wol uit hul eie sakke geëwenaar.
En so het 14 bejaardes van Huis Lafras Moolman op 12 Mei met 22 bolle wol verwoed begin brei. Tussendeur het hulle sommer prettige uitdagings vir mekaar gestel, soos wie ook al die eerste 25 blokke brei, is met ’n sjokolade beloon. So het die blokke baie vinnig begin aanteel namate die bejaardes die naalde laat klap het.
En toe die nuus van die brei-projek versprei, het hulle nog skenkings van wol, asook gare gekry. Ander inwoners het hul kaste leeggemaak op soek na “weeswol” vir die projek.
Die vroue werk baie hard om so gou as moontlik warmte vir mede-inwoners te bied, want soos almal weet, het die winter sy kloue behoorlik ingeslaan.
Altesaam 18 kombersies is vandeesweek aan inwoners van Huis Lafras Moolman se siekeboeg ná die brei-marathon van slegs agt weke geskenk.
Die tehuis en sy inwoners bedank almal vir hul bydraes, en natuurlik boaan die lys, die onbaatsugtige breiers wat volhard het.
Enige skenkings van nog wol sal welkom wees vir verdere breiprojekte. Bel Heidi Jonker by die tehuis, 023 349 1190, om aflewering te reël.


