Gesondheidswerkers van Riverview is deur die bekende bejaarde van Riverview, Solly Valley, bedank vir die werk wat hulle doen. Agter is Mary-Ann Swanepoel, Solly Valley, Elgene Amsterdam, Cheryl Lewies, Liezel Smith en Janice Arendse. Voor is Christal Golding, Lizel Kapel, Verge Willemse en Rudine February. Mariska Claasen was afwesig.


’n Bejaarde van Riverview het tydens Nasionale Hospies-week die gemeenskaps­gesondheidswerkers van Boland Hospice in Riverview vir hul harde werk bedank.

Dié week het van 1-7 Mei plaas­gevind.

Boland Hospice verskaf palliatiewe sorg aan diegene wat met ’n lewens­bedreigende siekte leef, rehabilitatiewe en onder­steunende sorg, asook chroniese bestuur vir lewensveranderende siektetoestande soos MIV, TB, hipertensie en diabetes.

Hulle doen ook behandelings­ondersteuning, gesondheids­opvoeding om welstand te bevorder en siekte te voorkom, vroeëkindergesondheidsorg en gesins-ondersteuning. Voorts is daar ook tydelike versorging van ’n siek, bejaarde of gestremde persoon om verligting aan hul gewone versorgers te bied.

Riverview se gemeenskaps­gesondheidswerkers by Boland Hospice lewer ’n diens aan babas en bejaardes in die Riverview-gemeenskap.

Een van die buurt se bekendste bejaardes, Solly Valley, het dit goedgedink om dié gesondheidswerkers vir hul harde werk en liefde te bedank wat hulle in die gemeenskap betoon. Die gemeenskapsorgwerkers verskaf tuisversorging van Maandag tot Vrydag.

Ewa Skowronska, uitvoerende hoof van die Hospice Palliative Care Association (HPCA), sê palliatiewe sorg is nie net vir mense wat terminaal siek is nie.

“ ’n Hospies verskaf ook sorg aan mense wie se lewe deur ’n siekte bedreig word (wat Covid-19 insluit). Hierdie sorg word verder aangebied deur ’n multidissiplinêre span, wat ’n mediese dokter, professionele mense soos ’n verpleegster, maatskaplike werker, geestelike versorger en tuisgebaseerde versorgers insluit. Die span werk saam met die pasiënt se geneesheer om ’n goeie lewensgehalte vir pasiënte te verseker by wie lewensbedrei­gende siektes gediagnoseer is, asook om onnodige lyding te voorkom en te verlig,” sê Skowronska.

Hospies lewer hoofsaaklik palliatiewe sorg op drie maniere:. Tuisversorging vir diegene wat dit verkies om tuis te wees (en kan wees); . hospies-gemeenskapsentrums (dagsorgsentrums) vir diegene wat in staat is om na sentrale punte te reis;. binnepasiënt-eenhede wat 24 uur per dag vir pasiënte sorg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article