Die sinkhuis in Zwelethemba waar die ontvoerde bejaarde Britse toeris gevangene gehou is.Foto: SAPS


’n85-jarige Britse toeris wat in Robertson ontvoer is, is Saterdagoggend (4 Oktober) ongedeerd, maar wel geweldig getraumati­seer, in ’n sinkhuis in Zwelethemba, Worces­ter, gevind.

Die vrou is helder oordag gekaap en ontvoer terwyl sy op die Le Chasseur-pad in Robertson gery het. Die voorval het Vrydag omstreeks 12:00 plaasgevind. Sy is daarna deur haar ontvoerder(s) na Worcester geneem en in ’n verlate sinkhuis in die Zwelethemba-woonbuurt aangehou.

Ná ’n deurnag-soektog het die polisie die vrou Saterdagoggend opgespoor en haar veilig bevry.

Sy is dadelik vir mediese waarneming geneem, maar dit blyk dat sy nie fisiek beseer is nie. Die plakkershut waar sy gevind is, word nie bewoon nie.

Volgens kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoord­voer­der, het ’n multidissiplinêre taakspan die spoor van Robertson na Worcester gevolg, wat tot die suksesvolle redding gelei het.

Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig dat John Mosimanegape Mokgasi (39) Maandag in verband met die ontvoering in die landdroshof in Robertson sal verskyn.

Ntabazalila sê die voorlopige aanklagte teen Mokgasi is roof met verswarende omstandighede en ontvoering.

Die staat sal die borgtogaansoek teenstaan en versoek dat Mokgasi in aanhouding bly.

Ntabazalila sê die saak is tot 14 Oktober uitgestel sodat ’n regsverteenwoordiger vir Mokgasi aangestel kan word.

Anroux Marais, die Wes-Kaapse LUR vir polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, het haar gelukwense aan die speurders oorgedra en haar kommer oor die toename in ontvoerings uitgespreek.

Sy het beklemtoon dat die speurders se puik werk ’n voorbeeld is van hoe strategiese beplanning in die stryd teen ernstige misdaad vrugte afwerp.

In ’n ander onverwante voorval is ’n 20-jarige student van die Universiteit Stellenbosch op 3 Oktober in die vroeë oggendure in die hartjie van Stellenbosch ontvoer.

Haar ontvoerders het ure lank met haar in hul motor rondgery, geld uit haar bankrekening onttrek asook haar ouers gebel en op ’n losprys aangedring voordat die student vrygelaat is.

Ntabazalila het gesê twee beskuldigdes, onderskeidelik 24 en 25 jaar oud en albei van Zimbabwe, het Maandag in die landdroshof in Stellenbosch in verband met die Matie se ontvoering verskyn.

Hulle word aangekla van onder meer ontvoering, afpersing, en die oortreding van die immigrasiewet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article