’n Bejaarde egpaar wat in ’n huis op die Goudinipad naby Rawsonville woon is gisteraand (Woensdag 8 Maart) omstreeks 23:30 aangerand en vasgebind nadat twee rowers toegang tot hul huis gekry het.
Die egpaar, wie se identiteit vir eers weerhou word totdat Standard kan uitreik na hulle toe, is volgens persone wat op die toneel was vir dood gelaat.
Nico Harmse van G24-sekuriteit, Vetus Schola en die plaaslike Breedevallei-plaaswag, het aan Standard gesê dat die rowers toegang tot die spoorweghuisie gekry het deur die badkamer se venster te breek.
Die paartjie is egter vanoggend (9 Maart) eers gevind nadat persone wat naby hulle woon by hul aangeklop het. Daar is toe om hulp geroep en Harmse en die spanne is in kennis gestel en was binne vier minute op die toneel. ’n Bejaarde man was met ’n gebreekte been gevind. Hy was ook tydens die aanval met ’n elektriese koord gewurg.
G24 en die plaaslike Priority Care-ambulansdienste het binne minute reageer op die toneel, waarna die plaaslike polisie ook opgedaag het.
Die paartjie was op die toneel behandel waarna die bejaarde man na die plaaslike hospitaal vervoer is vir behandeling.
Harmse maak dit egter duidelik dat dit nie ’n plaasaanval was nie. Die huis is wel in die landelike gebied teen die spoorlyn geleë.
“Twee moontlike verdagtes is geïdentifiseer en die polisie werk aan die saak,” het Harmse bevestig.
Standard het uitgereik na die Rawsonville-polisie en die berig sal opdateer word met die nuutste inligting. Dit is egter onseker of enige verdagtes al vasgetrek is, wat die motief vir die inbraak was en wat gesteel is.




