Inwoners van die Wes-Kaap word aangemoedig om voordeel te trek uit uitgebreide behuisingsdienste wat in September, gedurende Staatsdiensmaand, aangebied word.
In dié maand gaan die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur sy openbare dienste uitbrei om inwoners met verskeie behuisingsnavrae te help.
September word jaarliks as Staatsdiensmaand (PSM) gevier en is ’n herinnering aan wat dit beteken om gemeenskappe te dien. Amptenare by die departement sal PSM vereer deur verlengde sake-ure en dienste in verskeie gebiede aan te bied om Wes-Kapenaars by te staan en te bedien.
Die departement se hulptoonbankspan
sal help met navrae wat verband hou met:
. verhuurder- en huurder-dispute en raad;. subsidies en programme;. algemene behuisingsverwante navrae (soos bestorwe boedels; eienaarskapnavrae, oordragproses, titelaktes ensovoorts);. bekostigbare behuisingsprogramme soos vir huur- en koopgeleenthede;. behuisingsbystand vir militêre veterane;. wenke vir huiseienaars; en. bystand van die behuisingsontwikkelingsagentskap (HDA) met titelaktes, toekenningsnavrae en ondertekening van verkoopsooreenkomste.
Die datums, tye en lokale waar inwoners in September toegang tot behuisingsinligting kan kry, word hieronder uiteengesit:. 7-8 September, Thusong Mobile Outreach: Tyd: 09:00-15:00, Groendal Gemeenskapsaal, Groendal, Stellenbosch;. 9 September, 09:00-13:00, Waalstraat 27, Kaapstadse middestad;. 19-20 September, Thusong Mobile Outreach: Tyd: 11:00-15:00, Goudini VGK Kerksaal, Denova, Rawsonville, Worcester. 23 September, 09:00-13:00, Waalstraat 27, Kaapstadse middestad.
“Deur ons diensaanbiedings in Staatsdiensmaand uit te brei, hoop ons om meer burgers te bereik en by te staan om behuisingsubsidies, -programme en -ondersteuning wat aan hulle beskikbaar is, te benut. Dit is met verskillende soorte verkeerde inligting rakende regeringsbehuising binne die openbare ruimte ’n wonderlike geleentheid vir inwoners om duidelikheid en broodnodige dienste te kry.
“Geen uitdaging is groter en geen eer is beter as om in die staatsdiens te wees nie. My departement is ten volle daartoe verbind om ons inwoners te dien,” het Jacqueline Gooch, departementshoof, gesê.
Die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, het gesê “Hierdeur herdenk ons nie net Staatsdiensmaand nie, maar verseker ons ook dat in die behoeftes van ons inwoners voorsien word. Dit is deur sulke inisiatiewe dat ons herinner word aan die belangrikheid daarvan om ’n toeganklike staatsdiens te wees.”
Die departement bied in gewone werksure openbare dienste van 07:30-15:00 van Maandag tot Vrydag by Waalstraat 27, Kaapstad. Inwoners kan ook hul plaaslike munisipale behuisingskantoor besoek vir regeringsbehuisingsverwante navrae.
Inwoners kan ook die departement bel by 021 483 0611/3112/6488/8984/2060 of e-pos rig aan Human.Settlements@westerncape.gov.za
Wes-Kapenaars word aangemoedig om in September voordeel te trek uit die uitgebreide diensaanbiedinge en die departement of plaaslike munisipaliteit gedurende gereelde ure vir enige behuisingsverwante navrae te besoek.




