Het jy al ooit twee mense in Gebaretaal sien kommunikeer? Het jy probeer ontsyfer wat presies die mengelmoes behendige vingers en buigbare gewrigte beteken? Dis fassinerend, nè? Gebaretaal is ’n gesofistikeerde taal wat spesiaal vir die oë ontwerp is.
Ons vermoë om ’n taal aan te leer en te praat is een van die wonders van die menslike verstand. Taalverwerwing vind hoofsaaklik plaas deur gehoor, maar sonder gehoor is dit die werk van die oë. Die menslike behoefte om te kan kommunikeer, het daartoe gelei dat Dowes oor die wêreld heen verskillende vorme van gebaretaal begin ontwikkel.
Gebaretaal is ’n taal wat handkommunikasie, liggaamstaal, gesigsuitdrukkings en emosie gebruik om te kommunikeer.
Dit word deesdae internasionaal erken as die natuurlike taal van Dowe mense en volgens Statistieke Suid-Afrika (sensus 2011) het Suid-Afrika destyds 234 665 Gebaretaalgebruikers gehad.
Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) is onlangs as die 12de amptelike landstaal verklaar. Dié nuus word verwelkom deur dowes, mense met gehoorverlies en ander in die Dowe gemeenskap landwyd aangesien etlike jare al gepoog word om SAGT as amptelike landstaal te erken.
By NID ontvang ons gereeld versoeke van horendes wat graag Gebaretaal wil aanleer. Wanneer ’n mens Gebaretaal begin bestudeer, word jy eerstens beïndruk (en soms oorweldig) deur die tegniek en ingewikkeldheid daarvan, asook die oorvloed en variasie van gebare. Aanvanklik wil jou vingers net nie saamwerk nie en die vreemdste tekens kom te voorskyn. Mettertyd en met oefening verwonder jy jou egter aan hoe elke begrip, gevoel of gedagte met slegs ’n gebaar van die hand betekenisvol oorgedra kan word.
NID hou gereeld aktiwiteite ten opsigte van die bevordering van SAGT.
Projekte soos die aanlyn SAGT-kursus en die aanlyn SAGT-videowoordeboek lok groot belangstelling en het al reusesukses behaal.
Gebaretaalopleiding en promosie- en bewusmakingsessies word ook by sakeondernemings, hospitale, skole en enige ander instansies wat graag hul werknemers wil sensitiseer, aangebied.
Vir enige navrae of meer inligting besoek www.nid.org.za of stuur ’n e-pos-boodskap na info@learnsasl.com. . Kom kook jou ketel saam met die NID en die gasspreker Yolande Britnell-Steyn van Sit aan die ketel aanstaande Vrydag (26 Mei) om 18:30.
Kom word bemoedig, bemagtig en bederf! Kry jou kaartjie vir hierdie heerlike pajama-pantoffel-koffiekuier-vroueaand – pannekoek, koffie en warm sjokolade is ingesluit.
Talle gelukstrekkings word gehou. Koste: R150 per persoon. Navrae: relations.fr@nid.org.za of Whatsapp na 071 375 1426.




