In die heersende uitdagende fiskale klimaat, sal Enoch Godongwana, minister van finansies, tydens Woensdag, 21 Februarie se begrotingsrede ‘n moeilike balanseringstoertjie moet uitvoer om te keer dat Suid-Afika nie oor die spreekwoordelike fiskaleafgrond neerstort nie.
Suid-Afrika is tans is ’n diep skuldstrik, met net die rente op staatskuld wat nou al R1,087 miljard per dag kos. Met ander woorde, 20% van alle belasting wat die staat invorder word nou aan staatskuld bestee. Die besteding aan die diens van staatskuld bly die begrotingsitem wat die vinnigste groei en is derhalwe ‘n onvolhoubare uitgawe wat vinnig gestuit moet word.
Tydens sy mediumtermynbegrotingsraamwerk in November 2023, het Minister Godongwana gesê dat ‘n addisionele R15-miljard in die 2024-’25 boekjaar van Jan Taks verhaal sal moet word. Hoewel Agri Wes-Kaap nie voorsien dat die staat in ‘n verkiesingsjaar belastingskoerse ooglopend sal verhoog nie, bestaan daar bekommernis dat daar subtiele maniere gevind gaan word om die staat se inkomste aan te vul.
Agri Wes-Kaap vertrou dat die Minister rede sal insien om nie die brandstofheffing of sondebelastingheffings, met spesifieke verwysing na aksynsbelasting op alkohol en tabak, vanjaar te verhoog nie.
Aangesien die brandstofheffing die vierde-grootste inkomste-item in die begroting is, is Agri Wes-Kaap bekommerd oor die moontlikheid van verhogings in die koers. Brandstof is een van die grootste insetkostes in primêre landbouproduksie, asook ‘n enorme koste-komponent in die breër landbou-waardeketting. “Primêre landbou produsente kan nie ‘n verhoging in die algemene brandstofheffing en padongeluksfondsheffing bekostig nie. Ons doen daarom ‘n beroep op die minister dat die heffings nie vanjaar met bo-inflasie sal verhoog nie,” sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.
“Agri Wes-Kaap pleit verder by die staat om ‘n verhoging van aksyns op alkohol en tabak te beperk tot inflasie,” aldus Strydom. “In 2019 en 2020 het aksynsbelasting met meer as inflasie toegeneem, terwyl ons in 2021 ‘n skerp styging bo inflasie gesien het. Agri Wes-Kaap hoop dat die finansiële volhoubaarheid van die wynbedryf in ag geneem sal word en dat die verhoging in aksynsbelasting soos verlede jaar beperk sal word tot die inflasiekoers.”
Aan die bestedingskant sal Agri Wes-Kaap dophou om te sien watter steun daar gegee sal word om die menige uitdagings waaraan die landbou sektor geraak word op te los.
Die landbou sektor en uitgebreide waardeketting word steeds deur die voortslepende energie voorsienningstekorte geteister. Agri Wes-Kaap hou daarom sy asem op dat die fiskus genoegsame ondersteuning sal gee om die elektirsiteitopwekking en -verspreidingsnetwerk op ‘n volhoubare langtermyn trajek te plaas. Ongelukkig voorspel die 2023 Konsep Geintegreerde Hulpbronplan geen positiewe nuus vir die periode tot 2030 nie. Hoewel dit vir Agri Wes-Kaap kommerwekkend is, is die staat se voorneme om nuwe opwekkingskapasiteit in liggings met hoë natuurlike hulpbron-potensiaal te skep positief. Daar is egter ongelukkig nie voldoende transmissie lyne om die potensiële opwekking te herlei na substasies nie. Dit is daarom goed om te verneem dat die regering beoog om die transmissienetwerk met 14 000km uit te brei. Agri Wes-Kaap hoop dat die fiskus verskeie beleggingsinstrumente sal skep om dit vir die private sektor moontlik te maak om in transmissie te belê.
Verder is die toestand van ons logistieke infrastruktuur ‘n groot hindernis vir volhoubare groei in die landbousektor. Agri Wes-Kaap hoop om tydens die begrotingsrede te hoor hoe daar begroot word om die uitdagings met ons hawens, paaie, en spoor op te los. President Cyril Ramaphosa het tydens sy staatsrede gesê dat die Staat ‘n duidelike padkaart om Transnet te transformeer en die logistieke netwerk te hervorm saamgestel. Agri Wes-Kaap hoop om meer inligting in die verband tydens die begrotingsrede te ontvang.
Die voortslepende uitdagings by die houerterminaal in die Kaapstadse hawe is alombekend. Agri Wes-Kaap is van mening dat die internasionale terminaal-operateur se aanstelling by die hawe van Durban ‘n stap in die regte riging is en hoop dat die disfunksionele houerteeminaal in die Kaapstadse hawe spoedig sal volg deur private operateurs toegang tot die netwerk te gee.
Tydens die Staatsrede het Predisent Ramaphosa gesê dat SANRAL, wat vir ongeveer 25 000 km se padinfrastruktuur verantwoordelik is, in die komende jaar aan 2 000 projekte aandag gaan gee. Agri Wes-Kaap hoop dat dié projekte op die prioriteitspaaie wat deur Agri SA en sy provinsiale affiliate aan die Staat verskaf is sal fokus.
Die hoeveelheid vrag wat Suid-Afrika se nasionale paaie moet hanteer is volgens Agri Wes-Kaap ook onvolhoubaar. “Tans dra die land se paaie ongeveer 87% van alle vrag,” sê Strydom. “Die land se oorafhanklikheid van padvervoer lei tot verskeie gevolge. Ongelukke, verkeersknope, besoedeling en hoër dieselverbruik is van die gevolge, maar die verval van paaie én die staat se onvermoë om instandhouding en herstelwerk tydig te doen is vir Agri Wes-Kaap die grootste teerpunt. Agri Wes-Kaap hoop daarom dat die begrotingsrede sal uitwei oor die planne wat daar vir die herlewing van ons spoorvervoer beplan word.”
Die veiligheid van landbouprodusente bly vir Agri Wes-Kaap ‘n sleutelprioriteit.
“Dit is egter vir ons moeilik om die President se stelling tydens die Staatsrede, dat die aanpak van misdaad vir die Staat ook ‘n prioriteit is, met erns op te neem gegewe die huidige misdaadstatistiek. Agri Wes-Kaap verwelkom egter steeds die aanstelling van byna 20,000 addisionele polisielede oor die afgelope twee jaar en die voorneme om ‘n addisionele 10,000 lede in die komende jaar aan te stel. Agri Wes-Kaap hoop dat daar genoeg fondse in die begroting is om die aanstellings te laat realiseer.
Na aanleiding van 2023 se provinsiale rampverklaring, sien Agri Wes-Kaap uit dat die minister sal aankondig dat fondse binnekort aan die Wes-Kaap geallokeer sal word om die vloedskade aan paaie en infrastruktuur te herstel.
Die Staatsrede vroeër die maand het ’n smaak van teleurstelling by Agri Wes-Kaap gelaat.
“Behalwe dat daar nie genoegsame planne op die tafel gelê is om die rits uitdagings op te los nie, word die enkele intervensies en positiewe voorneme met pessimisme beskou gegewe die kapasiteits- en begrotingsuitdagings. Agri Wes-Kaap sal daarom die begrotingsrede, geskeduleer vir 21 Februarie, dophou met die hoop dat ons pessimisme sal kwyn,” het Strydom afgesluit.


