Die Breedevallei-munisipaliteit se voorgestelde begroting vir die komende boekjaar is tans oop vir kommentaar van die publiek.
Die voorgestelde begroting beloop tans altesaam R1,68 miljard.
“BVM het weer eens ’n begroting opgestel om die beste vir almal te doen. Die belangrikste vraag wat inwoners altyd vra wanneer dit by die begroting kom, is natuurlik ‘hoe gaan dit my sak raak’? Ons weet die lewenskoste styg voortdurend en BVM kan dit nie vryspring nie. Ons probeer egter tariewe so laag as moontlik hou,” verduidelik Antoinette Steyn, die BVM se uitvoerende burgemeester.
Sy gee die voorbeeld dat Nersa se elektrisiteitsverhoging 18,65% is, terwyl BVM se gemiddelde tariefverhoging 6,95% is.
“Die uitwerking hiervan is dat verskillende huishoudings tussen R96 en R1 099 meer per maand sal betaal. Anders as wat mense dikwels sê, dra ons werklik die belange van ons gemeenskappe op die hart. Dit is duidelik uit die verskillende kortings wat beskikbaar is vir behoeftige huishoudings sowel as pensioenarisse.”
Die burgemeester het ook ekstra finansiering beskikbaar wat sy volgens haar diskresie kan gebruik.
“As uitvoerende burgemeester het ek ook ’n paar ekstra fondse beskikbaar om na goeddunke te gebruik vir spesifieke projekte soos beurse, toelaes vir hulpfinansiering, gestremdes, ramp-gebeure, misdaadvoorkomingsprogramme en ander institusionele toekennings.”
David McThomas, die munisipale bestuurder, het die begroting soos volg uiteen gesit:
. Ongeveer R54 miljoen begroot vir die opgradering van rioolstelsels en netwerk-opgraderings en verwante werke;
. Ongeveer R22 miljoen om die Stettynskloofdamwal aan te vul om toekomstige watersekerheid te verbeter;
. Ongeveer R63 miljoen begroot vir die opknapping van munisipale paaie;
. Ongeveer R34 miljoen is vir verbeterings aan elektriese infrastruktuur begroot;
. Ongeveer R15 miljoen begroot vir die opknapping van grondpaaie;
. Ongeveer R30 miljoen is begroot om sosiaal-ekonomiese ontwikkeling te stimuleer deur die diens van vakante erwe wat geïdentifiseer is vir invul-ontwikkelings (soos nywerheidsontwikkeling); en
. Ongeveer R70 miljoen is begroot om verskeie wyksprioriteite aan te pak (onder meer opknapping van paaie, opgradering van grondpaaie, konstruksie van spoedwalle, installering van hoë maste en areabeligting, Hexrivier-erosiebeskerming).
“Alhoewel dit ’n konsepbegroting bly, is ons positief dat dit kollektiewe goedkeuring deur alle kiesers en, belangriker nog, die munisipale raad sal ontvang. Die finale begroting moet nie later nie as 31 Mei by die munisipale raad ingedien word,” sê McThomas.
Hy noem ook dat die konsepbegroting ’n ingewikkelde balans is wat spruit uit behoeftes wat deur verkiesers genoem is.
“Die konsepbegroting het ’n ingewikkelde balans tussen projekte en inisiatiewe wat in die munisipaliteit se strategiese beplanningsraamwerk ingesluit is, tesame met prioriteitsbehoeftes wat deur ons kiesers geopper word. Ons begroting is gewortel in die beginsel van openbare deelname en samewerking, ’n beginsel wat tans aan die gang is met implementering via die geïntegreerde ontwikkelingsbeplanning (GOP) en begroting-verbintenisse deur al 21 wyke binne die BVM. Dit bied aan die publiek ’n belangrike geleentheid om vertoë oor die munisipale begroting in te dien en dit te beïnvloed,” verduidelik McThomas.
“Dit is belangrik om daarop te let dat dit steeds die konsepbegroting is en dat die gemeenskap steeds hul kommentaar op die dokument kan lewer,” sê Steyn.
Inwoners kan op die volgende maniere hul kommentaar lewer:
. Persoonlik by die begrotingskantoor van die munisipaliteit, geleë by Baringstraat 53, of by enige administratiewe dorpskantoor;
. Via e-pos aan Andre Crotz (acrotz@bvm.gov.za) of Berdine Volschenk (bvolschenk@bvm.gov.za);
. Via die skakel https://bvm.gov.za/page-templates-2/contact-us/ op die munisipale webwerf; of
. Deur kommentaar te lewer op die verwante publieke kennisgewing wat reeds op die munisipale Facebook-blad geplaas is.
V Elektrisiteit 18,65%
V Water 6,95%
V Sanitasie 6,96%
V Eiendombelasting 6,95%
V Vullisverwydering 6,95%


