’n Vrou van Worcester is geweldig omgekrap nadat sy ’n versekeringseis ingestel het, maar nadat sy meegedeel is sy moet geld inbetaal, wag sy nou nog vir haar geld.
Beatrice Basson het ’n begrafnispolis vir haar niggie by EasyPay uitgeneem.
“My kontrak by die werk het in Januarie verval en ek het ophou betaal. Maar toe my niggie onlangs dood is, het ek hulle gekontak en gevra of ek die laaste paar maande se paaiemente kan opbetaal en of hulle dan die polis sal uitbetaal. Hulle het gesê ja, hulle kan dit so doen, en vir my ’n bankrekeningnommer gestuur waarin ek R612 inbetaal het. Hulle het belowe dat die geld binne 48 uur uitbetaal sou word,” verduidelik ’n verbouereerde Basson.
Haar niggie se begrafnis het gekom en gegaan en sy het nou nog geen uitbetaling ontvang nie.
“Hulle het eers ná die begrafnis ’n SMS gestuur waarin hulle gesê het die eis is geweier. As die eis dan geweier is, wat word dan van daai R612 wat ek inbetaal het?”
Hierdie situasie het baie konsternasie vir die familie veroorsaak omdat hulle die geld nodig gehad het vir hul familielid se begrafnisreëlings en ander onkoste.
“Ons het as gevolg hiervan in ons droewige tydperk meer gespanne as hartseer gevoel. Ek verstaan nie. Ek het by ’n ander ook opbetaal en die polis is uitbetaal. Ek het al soveel keer probeer uitreik na die persoon wat my by EasyPay gehelp het, maar kry net geen antwoord van hom af nie. Dit is frustrerend.”
Standard & Gazette het ’n navraag aan EasyPay gestuur met die volgende vrae:
1. Waarom is die eis geweier?
2. Hoekom het julle haar geld laat inbetaal as die eis geweier sou word?
3. Gaan EasyPay die geld wat sy onlangs betaal het, terugbetaal?
4. Wat is EasyPay se protokol wanneer iemand vir ’n rukkie ophou betaal maar dan weer met die polis wil voortgaan?
Ian Harrison het eenvoudig net gesê hulle is besig om Basson se eis te ondersoek.
“Ongelukkig is ons nie in staat om die besonderhede van die eis bekend te maak nie weens die vertroulike aard van die verhouding met ons kliënt. Die spesifieke kwessies van hierdie eis word nog ondersoek, en ons skakel direk met ons kliënt om haar op hoogte te hou van die vordering. EasyPay Insurance poog om alle geldige eise binne 48 uur te betaal. Die eisproses kan vertraag word in gevalle waar eise verwys word vir verdere ondersoek en beoordeling.”



