Die span wat verantwoordelik is vir die omheining by die begraafplaas – die wyksraadslid dr. Julian Kritzinger en die lede van wyk 7 se komitee: Neels de Bruyn, Edward du Plessis, BVM se begraafplaasbeampte, Dawie Slingers, Johan de Witt, Jacoba Bradbury, Margaret Swart, Handrie Swart en Desmond de Koker.Foto: Namhla Monakali


Almal ken die tipiese berigte in koerante waarin gewys word hoe verniel en lelik ’n dorp se begraafplaas is. Verwaarloosde begraafplase is ’n nasionale tendens. Min mense raak egter ooit betrokke of steek die hand in eie boesem om die situasie te probeer verander.

Dit was egter presies wat wyk 7 se wykskomitee die afgelope sewe jaar gedoen het – en vandag kan die hele gemeenskap die vrugte pluk van hierdie span se visie, wat hulle in fases aangepak het.

Die Worcester-begraafplaas het oor die jare baie uitdagings ervaar, en dit was glad nie vreemd om by die munisipaliteit klagtes te ontvang van bakkies wat met bourommel by die begraafplaas inry en dit dan daar onwettig op grafte gaan stort, of nabygeleë huise wat hul huishoudelike vullis in die begraafplaas gaan uitskud en weggooi, of selfs plakkers wat onwettig in die begraafplaas gaan woon het nie.

Daar was ook al baie voorvalle waarin die polisie misdadigers in die begraafplaas aangekeer het wat daar gaan wegkruip of gesteelde goedere daar geberg het.

Die Worcester-begraafplaas in Kerkhofstraat bestaan uit 22 verskillende erwe, waarvan slegs vier aan die munisipaliteit behoort en die munisipaliteit se verantwoordelikheid is om skoon te hou.

Die ander 18 erwe behoort aan die verskillende gemeentes en dit is daardie gemeentes se verantwoordelikheid om hul eie begraafplase skoon te hou en te beveilig.

Aangesien alle gemeentes noustrop trek, het wyk 7 se komitee besef dat hulle nie langer kan wag en hoop dat die veiligheidsituasie in die begraafplaas homself moet verbeter nie, en vervolgens het hulle begin om ’n plan te maak om die begraafplaasgebied te beveilig.

Fase 1 van die projek: 2017-’18-wyksgebaseerde geld

Fase 1 van die projek was net om die grootste van al die begraafplase, die NG Moedergemeente se begraafplaas, se straatfront in Kerkhofstraat, te omhein.

In 2017 en 2018 het wyk 7 se raadslid, Julian Kritzinger, saam met sy wykskomitee hul wyk se jaarlikse munisipale toekenning van geld vir wyksgebaseerde projekte wat in die munisipale begroting aan elke wyk toegeken is, begin aanwend om die straatfront van die NG Moedergemeente se begraafplaas in Kerkhofstraat te begin omhein.

Fase 2 van die projek: Wyk 7 se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP)-lys

Fase 2 van die projek het gefokus op die toemaak van die res van die begraafplase wat aan Kerkhofstraat front, te wete die Prefek Apostoliese Kerk-, die Italiaanse en die Duitse Lutherse Kerk-begraafplase.

Aangesien daar van 2018 nie meer geld vir wyksgebaseerde projekte aan wyke toegeken is nie, moes wyk 7 se komitee vervolgens ’n ander plan maak om met hul projek voort te gaan. Hulle het voortdurend gesorg dat die behoefte aan die omheining van die res van die begraafplaas jaarliks hoog op hul wyk se lys van geïntegreerde ontwikkelingsplanbehoeftes bly.

Uiteindelik is hierdie behoefte toe bevredig toe in die onlangse begroting voldoende geld vir die verdere oprig van die heining bewillig is.

Ongelukkig was die geld net voldoende om ’n heining aan te bring, maar nie voldoende om ook die Anglikaanse kerk of die Moslem-begraafplaas se straatfronte te omhein of om ingangshekke na die krematorium en die munisipale begraafplaas aan te bring nie.

’n Groot projek soos hierdie moet egter in fases aangepak word, en die aanbring van verdere heinings en ingangshekke is iets waarvoor in die toekoms gehoop word en wat wyk 7 se komitee op sy GOP-lys gaan behou.

’n Taak van hierdie aard word natuurlik deur baie uitdagings in die gesig gestaar, soos onder meer: (1) Die feit dat hierdie begraafplase op private grond geleë is en die instandhouding die onderskeie gemeentes se verantwoordelikheid is; (2) Die feit dat baie gemeentes en gemeenskappe vandag nie meer bestaan nie, soos die Duitse Lutherse gemeente en die Joodse gemeente, en die Italiaanse gemeenskap; (3) Die feit dat sommige gedeeltes se relevante skakelpersoon, soos die Italiaanse begraafplaas, onopspoorbaar is.

Die gedeeltes wat nou omhein is, bring sigbare verligting vir etlike probleme wat in die begraafplaas ondervind is, soos: (1) die pla van kinders by omliggende skole; (2) onwettige storting van bou-, tuinrommel en huishoudelike vullis op grafte; (3) die steel van vibracrete-muurpanele wat as tweedehandse boumateriaal verkoop word; (4) wegkruipplek vir misdadigers; (5) onwettige plakkery; (6) prostitusie ensovoorts.

Wyk 7 se komitee verdien ’n pluimpie vir sy deursettingsvermoë en volharding oor ’n sewe-jaar-tydperk om hierdie projek deur te sien.

Reusedank en groot waardering gaan ook aan BVM se superintendent van die parke-afdeling, die begraafplaasbeampte Dawid Slingers, wat hierdie projek laat realiseer het.

In ’n woord van advies aan ander wyke wat ook soortgelyke uitdagings met begraafplase ervaar, raai Kritzinger daardie wyke se komitees aan om ’n projek van hierdie aard (1) altyd hoog bo-aan hul wyk se GOP-lys te prioritiseer; en (2) om so ’n projek in fases aan te pak, want ’n mens kan dit onmoontlik op een slag doen, omdat dit te veel sal kos.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article