Besoekers kan volgens die BVM slegs begraafplase tussen Maandae en Donderdae van 09:00 to 16:00 en Vrydae tot 14:00, asook Sondae vanaf 09:00 tot 16:00.Foto: Dominique Jeftha


’n Herrie het verlede week op Facebook uitgebreek toe die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) aankondig het dat die begraafplase nou besoektye – slegs in die week – sal hê.

In die Facebook-plasing het die BVM genoem dat hy inwoners wil herinner aan die reëls rakende begrafnisse en verassings ingevolge die huidige inperkingregulasies.

Luidens die verklaring van die BVM word die bywoning van ’n begrafnis en verassing beperk tot 100 mense of minder, en as die vertrek te klein is om die voorgeskrewe aantal te huisves om ’n afstand van minstens een en ’n half meter van mekaar te hou, mag nie meer as 50 persent van die kapasiteit van daardie vertrek gebruik word nie. Dit is onderhewig aan streng nakoming van alle gesondheidsprotokol.

Dit lui verder dat maskers en handreinigers uiters belangrik is en dat nagwake asook na-begrafnis-byeenkomste nie toegelaat word nie.

Teraardebestellings by die begraafplase kan ook slegs net 30 minute duur.

Volgens die munisipaliteit volg hy slegs die reëls soos deur die nasionale regering uiteengesit.

Die munisipaliteit verduidelik verder die regulasies is op só ’n wyse ingestel om verkeer beter te reguleer en genoeg tydgleuwe te gee vir die aantal begrafnisse oor veral naweke.

“Besoekers aan begraafplase in die streek sal slegs op weeksdae toegelaat word om besoek af te lê. Besoekers word toegelaat van Maandag tot Donderdag van 09:00 tot 16:00 en op Vrydae slegs tot 14:00. Geen dagbesoekers word oor naweke en op openbare vakansiedae toegelaat nie,” lui die verklaring.

Dit is bogenoemde wat inwoners na die kommentaarafdeling van die plasing laat vlok het. Baie inwoners het teenoor die munisipaliteit uitgevaar omdat hulle deur die week tussen 09:00 en 16:00 by die werk is en dus nie die begraafplaas sal kan besoek nie. Ander wou weet hoekom hulle beperk word om afgestorwe geliefdes te gaan besoek.

Een inwoner se kommentaar lui soos volg:

“BVM, julle volg mos regulasies. Waar in die Gazette staan dat begraafplase net weeksdae oop mag wees? Wys vir my een munisipaliteit wat dieselfde reël soos julle s’n volg? Selfs begraafplase in De Wetstraat is dan naweke oop … Jul swembaddens, sportvelde, en ander ontspanningsgeriewe is oop ná Vlak 1, maar die begraafplaas-reël is nog steeds geldig van 2020? Ek weet julle gaan ons nie antwoord nie, maar dankie vir julle swak bestuur en jul nevermind houding teen ons as publiek. Dit stink regtig!”

Die BVM het egter Vrydag 18 Februarie in ’n opvolgverklaring gesê hy het na die klagtes van inwoners geluister en sodoende die regulasies aangepas sodat inwoners die begraafplaas op ’n Sondag ook kan besoek. In die opvolgverklaring het die munisipaliteit inwoners verskoning gevra vir die ongerief.

“Ons vra om verskoning vir die ongerief wat hierdie regulasies en die toepassing van regulasies veroorsaak het, maar tydens die aanvang van die pandemie moes besluite en die bestuur van daardie besluite met nasionale regulasies belyn word. Daar moes ook gekyk word na hoe hierdie reëls toegepas moes word vir die effektiewe en optimale bestuur van hierdie ruimtes terwyl die publiek en personeel ook in ag geneem moes word,” lui die tweede verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article