’n Jong ma wat aangeval is terwyl sy besig was om by die graf van haar jong kind te ween; grafte wat met vullis bemors word; betonmure wat afgesteel word en grafstene wat afgebreek word.
Dit is net ’n paar van die gru-voorvalle wat in die Worcester-begraafplaas – wat in ’n gevaarsone vir die publiek ontaard het – plaasvind.
Standard het die afgelope week met plaaslike geestelike leiers gesels om hul indrukke te kry van die toestand waarin die begraafplaas tans is.
Eerwaarde Ester Johnson van die Congregational-kerk in Leipoldtlaan sê die moreel van ’n gemeenskap is sigbaar in ’n begraafplaas.
“Ons begraafplase is nie veilig nie. Dit is nie meer die plek waarheen ons kan gaan om ons geliefdes op te soek nie.”
Sy sê die situasie by die Worcester-begraafplaas beroof mense van die geleentheid om hul geliefdes te besoek en hul grafte skoon te maak.
Volgens haar het mense ’n verantwoordelikheid om toe te sien dat die rusplek van hul geliefde(s) mooi is.
Johnson sê wanneer ’n mens by die begraafplaas instap, kry jy die gevoel mense het nie respek vir die dooies nie.
Sy sê terwyl haar kerk se koster op ’n dag besig was om ’n graf te help voorberei, het ’n onbekende man daar verby gekom en houtkruise uit die grond begin ruk vir vuurhout.
Volgens haar word die betrokke kruise nie net gebruik vir vuur nie, maar skoongemaak en herverkoop.
“Ons kerke het nie geld om sekuriteit of ’n lidmaat aan te stel vir die begraafplaas nie. Al wat ek vir mense kan sê, is om nie alleen begraafplaas toe te gaan nie.”
Vanweë die onveiligheid by die begraafplaas raai Johnson mense aan om dit te oorweeg om ’n gedenkhoekie in hul huis op te rig waar hulle private en stiltyd met hul geliefdes kan hê.
Sy sê as gevolg van die onveiligheid by die begraafplaas het die Congregational-kerk in Leipoldtlaan ’n gedenkmuur op die kerkperseel opgerig waarin afgestorwenes se as geplaas kan word.
Ds. John Willemse van die VGK Worcester-Oos sê die toestand van die begraafplaas oorkant Bolandpark-stadion en Kerkhofstraat steur mense se gemoed, want dit is hul geliefdes wat daar lê.
Volgens hom voel mense magteloos wanneer hulle die toestand sien waarin die begraafplaas is.
Hy sê mense moet aanbeweeg en gebruik maak van verassings.
Volgens Willemse wil die VGK Worcester-Oos ook ’n gedenkmuur oprig, maar daar is vrese dat die muur gevandaliseer gaan word.
Ds. Jeff Fransman van die VGK Sentraal in Adderleystraat sê op sy beurt vandalisme dui op verwoesting van bepaalde goeie ordes.
Hy sê die vandalisme in die begraafplaas laat ’n mens diep gegrief.
Volgens hom het dit het sy kerk onlangs R30 000 gekos om die binnemure van die begraafplaas op te knap nadat vandale daarop gespuitverf het.
Hy sê voorts ’n grafmonument vir afgestorwe predikante is ook gevandaliseer.
Fransman sê hy weet van voorvalle waar mense by die begraafplaas met vuurwapens en messe gedreig is
Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit, sê die munisipaliteit werk al baie lank reeds saam met die kerke om die beste oplossings vir die probleme te vind.
Sy sê die munisipaliteit het reeds twee jaar gelede begin om die vooraansig van die begraafplase gedeeltelik toe te maak na gelang van die munisipaliteit se beskikbare begroting.





