Laerskool Worcester-Oos se jaarlikse Beesloop het Vrydag 10 Maart weer plaasgevind en talle het die dag terdeë geniet.
“Om van hierdie geldinsameling ’n sukses te maak, is ons afhanklik van die gemeenskap en besighede se goedhartige ondersteuning. Ons is dankbaar vir elkeen wat die dag bygewoon het en ook bygedra het tot die sukses,” sê die skool se bemarker, Lola van der Merwe.
Die 28ste Beesloop is vanjaar aangebied en ongeveer 3 000 feesgangers het die verrigtinge bygewoon. Daar was verskeie sportaktiwiteite, wat ingesluit het die Rugby 7’s- en Fast 5 Netbal-wedstryde.
Christie Grobbelaar, Springboksewes-speler en oud-leerder, het ook die dag saam met die leerders geniet.
Daar was ook hope vermaak met gaskunstenaars, ’n kleuterkokkompetisie, die bekendmaking van lootjiewenners, ’n gewilde wyntuin, verskeie kosstalletjies, en dit alles gevolg deur die Maanloop – dit is ’n gewilde aktiwiteit vir stappers en drawwers om te kyk hoeveel rondtes hulle om die baan kan stap. Dit sluit ook ’n hindernisbaan vir die avontuurlustiges in. Die hoogtepunt van die dag is egter wanneer die koei op die veld losgelaat word.
“Die veld is in blokke opgedeel volgens al die lootjiekaartjies wat ons leerders vooraf flink verkoop het. Ons bees, Blommetjie, loop rond op die veld en wei ’n bietjie. Die eerste blok waarop sy ’n merk maak se eienaar wen die groot prys van R10 000. Blommetjie is gewoond daaraan om onder groot druk te werk,” skerts Van der Merwe.
“Ons koei, Blommetjie, is soos elke ander jaar van ’n plaas in die omgewing ‘ingevoer’. Sy is ’n baie spesiale koei, want sy moet kan aanpas in die dorp tussen ’n klomp vrolike mense. Sy moet boonop ook ’n belangrike taak verrig deur haar merk op die prysblok te los. Vanjaar is ons bevoorreg om Blommetjie as ons gas te kon hê, en ons sê baie dankie aan Hannie Naudé wat die koei so goedhartig vir ons geleen het,” sê Van der Merwe aan Standard.




