Die Laingsburgse polisieman wat in Julie deur die hof aan verkragting skuldig bevind is, werk steeds vir die polisie.

Lizalise Sentane is egter in ’n interne tugverhoor onskuldig bevind.

Sentane is in November 2016 deur ’n vrou beskuldig dat hy haar in die selle van die Laingsburg-polisiekantoor verkrag het. Die saak het oor jare gestrek en het talle staatsgetuies, onder wie polisiebeamptes, ingesluit.

“Die beampte wat by die verkragting betrokke was, is in November 2016 in hegtenis geneem nadat ’n vroulike verdagte, wat in die Laingsburg-selle aangehou is, beweer het die beampte het haar in die polisieselle verkrag. Die beampte is sedertdien vrygelaat en is later in sy tugverhoor onskuldig bevind,” sê kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse provinsiale polisiewoordvoerder.

Sentane was egter deur die loop van die strafsaak steeds in diens van die Suid-Afrikaanse Polisie. ’n Navraag is aan die Onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) gestuur en die woordvoerder, Lizzy Suping, het gesê navraag hieroor moet liewer op plaaslike vlak gedoen word. Pojie het verduidelik die betrokke polisiebeampte is na ’n ander afdeling gestuur.

“Ná verskeie hofverskynings is die beampte in Julie in die hof skuldig bevind en die saak is tot 30 September vir vonnisoplegging uitgestel. Die beampte is intussen na ’n ander omgewing in die organisasie herontplooi,” verduidelik Pojie.

In ’n afsonderlike saak is een van die Laingsburg-polisie se beamptes in 2018 op aanklag van bedrog in hegtenis geneem.

“Die beampte wat by die korrupsie-saak betrokke is, is in April 2018 in hegtenis geneem nadat ’n klaer beweer het hy het geld geëis om ’n saak terug te trek. Die saak word tans in die Worcester-streekhof verhoor. Die beampte is in sy tugverhoor onskuldig bevind,” sê Pojie.

Verder verduidelik hy die hofproses word noukeurig gemonitor.

“Die werkgewer monitor die hofverrigtinge. Op grond van die uitkoms ná finalisering, kan nuwe interne prosesse teen die beamptes ingestel word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article