Siphiwe Dludla en Jaypee Snyman kort nadat hulle die eindstreep van die uitmergelende Comrades-marathon oorgesteek het.


Jaypee Snyman (65), ’n laerskool­onderwyser by Stettyn Primêre Skool buite Worcester, het in vele Suid-Afrikaners, en veral Worcesteriete, se harte ingekruip toe hy en ’n ander atleet arm-aan-arm vanjaar se Comrades voltooi het.

En so is die ware kameraadskap van die Comrades-marathon uitgebeeld.

Snyman het Sondag (11 Junie) sy 21ste Comrades, een van die grootste en langste (89 km) padwedrenne in die wêreld, aangepak – soos oudergewoonte met ’n waterbottel in die hand en genoeg sonskerm op sy gesig.

Twee kilometer voor die eindstreep hardloop Snyman en Siphiwe Dludla mekaar raak, waar Dludla vir hom vra: “Gaan ons dit maak?”

Volgens Snyman het hy toe dadelik besef dat hulle twee reeds so ver gekom het in die wedloop dat hulle nie nou kan kop uittrek nie.

Op die bus terug Worcester toe het Snyman per WhatsApp verduidelik dat “hy vir haar [Dludla] net gefokus moes kry”.

“Die ervaring in my hardloop-gene het ingeskop, en ek het na die horlosie gekyk, haar [Dludla] gekalmeer en belowe sy sal die wedloop voltooi – sy moet net rustiger raak, na my luister en nie paniekerig raak nie.”

Volgens Snyman het Dludla geweldige pyn verduur, en dit is dié dat sy aan hom vasgeklou en hulle die uitdagende wedloop saam-saam voltooi het.

Snyman het ook verduidelik dat hy nie net haar gehelp het nie, maar sy hom ook, omdat hy ook moeg was en met sy uithouvermoë geworstel het.

Hy het verduidelik hy het die wedloop saam met vier ander atlete begin – almal van die Worcester-atletiekklub, waaraan hy behoort – naamlik Corrie Rooi, Noel Lucky, Vondra Nell, en Christopher Hop, maar het ná 20 kilometer begin naar voel.

“My bene wou nie meer saamwerk nie,” sê hy, maar hy het aangehou weens ’n string toeskouers wat hom gemotiveer het.



“Ek is vir geen oomblik spyt dat ek haar [Dludla] gehelp het nie.

“Ek het haar nie geken nie, maar in die Comrades-wedloop is ons [die atlete] soos een groot familie,” volgens Snyman.

Hy verduidelik verder dat die ekstra tyd wat bestee is om saam met Dludla na die eindstreep te hardloop, weens sy omgee-hart nie vir hom belangrik is nie.

“Die ekstra tyd tot my wedlooptyd is maar slegs vir die boeke. Ek is net dankbaar dat ons die wedloop kon voltooi, want daardie laaste twee kilometer het soos omtrent 20 kilometer gevoel. Ek moes hard konsentreer – op ons tyd, haar [Dludla se] toestand, die donkerte en ook die trane toe ek besef this is it, we’ve got this.”

Snyman en Dludla het die wedloop in 11 ure en 58 minute voltooi – twee minute voor die afsnytyd.

Dié barmhartige atleet het in Swellendam grootgeword en woon sedert 1997 in Worcester.

Hy was van 2006 tot 2018 ’n laerskoolonderwyser by Riverview Primêre Skool, en daarna sy onderwysloopbaan by Stettyn Primêre Skool voortgesit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article