Dis 1984 in Londen – die jaar wat gekenmerk was deur talle nuusberigte oor die knaende hongersnood in Ethiopië. Die verskriklikste beelde is aand na aand op BBC uitgesaai van ma’s en kinders wat op die rand van die dood staan hieroor.
Maar met die aanbreek van die Feesseisoen vroeg in Desember van daardie jaar, brand Londen se Kersliggies helder, mense skarrel oral in Regent- en Oxfordstraat rond met Kers-inkopie-koors en die warm soet reuk van glühwein en geroosterde kastaiings vul die lug – herinneringe van die beelde van Ethiopië ver uit almal se gedagtes.
Behalwe vir die Londense musiekwêreld wat druk besig was in die geheim met die opname van wat sekerlik die wêreld se grootste liedjie ten bate van liefdadigheid nog ooit was.
En op 7 Desember 1994 weergalm hierdie liedjie, Do They Know It’s Christmas?, behoorlik deur die strate van Londen.
Hierdie liedjie was baie meer as net ’n Kerslied; dit was ’n oproep tot aksie, empatie en wêreldwye samewerking. En bowenal het hierdie lied nie net £8 miljoen ingesamel vir die slagoffers van die Ethiopië hongersnood nie, maar dit het ook die inspirasie geword vir die grootste musiekkonsert ooit: Live Aid in 1985, wat nóg baie meer miljoene ponde ingesamel het hiervoor.
Die idee vir die liedjie het ontstaan nadat Boomtown Rats se Bob Geldof en sy lewensmaat, Paula Yates, die skokkende BBC-verslae oor die hongersnood gesien het, wat as “’n Bybelse tragedie in die 20ste eeu” beskryf was.
Geldof het sy vriend Ultravox se Midge Ure gekontak en voorgestel dat hulle ’n fondsinsamelingslied skryf.
Geldof en Ure het die lied vinnig geskep, met Ure wat die melodie ontwikkel het en Geldof wat die lirieke geskryf het. Dit was noodsaaklik dat die lied teen Kersfees van 1984 uitgereik word en hulp vanuit alle oorde in die musiekbedryf is ingeroep.
Geldof het die grootste name in Britse en Ierse musiek genader, insluitend Sting, Bono, Boy George en Duran Duran. Hierdie kunstenaars, bekend as Band Aid, het hul tyd en talent gratis geskenk.
Sarm West Studios in Londen het aan die projek gratis ateljee-tyd vir een dag gegee, en op 25 November 1984 is hierdie geskiedkundige liedjie opgeneem. Die sessie was nie net ’n opname nie, maar ook ’n gemeenskaplike poging om die wêreld te verander.
En in rekord tyd is Do They Know It’s Christmas? op 7 Desember 1984 vrygestel en het onmiddellik die top van die Britse trefferlyste gehaal waar dit vyf weke lank gebly het. Dit was die vinnigste verkopende enkelsnit in die geskiedenis van die Brittanje en het daar gebly net om later getroef te word deur Elton John se heruitreiking van Candle in the Wind na Lady Diana se dood in 1997.
Internasionaal het dit ook groot sukses behaal, met meer as 11.7 miljoen verkope wêreldwyd teen 1989.
Do They Know It’s Christmas? was ‘n reuse sukses en het gelei tot die daarop volgende jaar se Live Aid konsert op 13 Julie 1985, met optredes van die grootste name in musiek, beide in Londen se Wembley-stadion en in New York se JFK-stadion, het deur sowat 1.5 miljard mense wêreldwyd gekyk en word beskou as “Die dag toe musiek die wêreld verander het”.
Wat ook gevolg het weens Do They Know It’s Christmas? was ‘n Amerikaanse weergawe hiervan, We Are the World. Die breinkind hiervan was Amerikaanse sanger en aktivis, Harry Belefonte, wat Geldof se pogings aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan fyn dopgehou het. Die liedjie is geskryf deur Michael Jackson en Lionel Ritchie en ook in rekordtyd opgeneem met reuse name in die musiekbedryf soos Jackson, Ray Charles, Billy Joel, Diana Ross, Cyndi Lauper, Bruce Springsteen, Tina Turner, as ook die grote Bob Dylan, wat die supergroep USA for Africa vir eendag gevorm het.
Die enkelsnit is in Maart 1995 uitgereik met rekord verkope van meer as 20 million fisiese kopieë, wat dit die agtste topverkoper-enkelsnit van alle tye maak.
Veertig jaar later, in 2024, bly Do they know it’s Christmas? ’n kragtige herinnering aan wat moontlik is wanneer mense saamstaan. Dit is steeds relevant en is verskeie kere heropgeneem en vrygestel, insluitend nou met ’n spesiale 40ste herdenking-uitgawe.
Dié weergawe bevat die stemme van oorspronklike sangers sowel as nuwer kunstenaars soos Harry Styles, Chris Martin, die Sugababes en Ed Sheeran. Dit sluit ook in die jong stem van U2 se Bono, wat die ikoniese reël Well tonight thank God it’s them, instead of you oorspronklik gesing het, saam met ’n opname van sy ouer self.
Ander stemme wat in die 40ste herdenking-remix voorkom, sluit in Sam Smith, Guy Garvey van Elbow, Rita Ora, Bananarama, Seal, Sinead O’Connor, Robbie Williams, Kool And The Gang en Underworld.
Alle opbrengste van hierdie weergawe sal aan die Band Aid Trust geskenk word.
Met sy kernboodskap van medelye en die verenigende krag van musiek, het Do They Know It’s Christmas? die wêreld herinner aan die ware gees van Kersfees – om te gee en om hoop te bring aan diegene wat dit die nodigste het.
* ’n Opname van Band Aid – Do They Know It’s Christmas? (2024 Ultimate Mix / 40th Anniversary Video) kan op You Tube gesien word.




