Die Bakkes-gesin, wat Saterdag 27 Julie op die N1 by Rawsonville verongeluk het, is Maandag 5 Augustus ter ruste gelê.
Ethan Bakkes en sy ma, Jackie, is beide op die toneel van die ongeluk dood en sy pa, Ewald, is drie later in die hospitaal aan verskeie beserings oorlede.
Die Bakkes-gesin het in die rigting van Paarl gereis toe hul motor se wiele na bewering in ’n plas water gegly en hulle reg van voor teen ’n aankomende Toyota Hilux-bakkie gebots het.
Ethan se vriendin was ten tyde van die ongeluk ook in die motor, ’n Hyundai Elantra. Volgens inligting het sy haar bekkenbeen in die ongeluk gebreek. Die gesin in die bakkie, ook van Worcester, het almal verskeie beserings opgedoen en die nodige behandeling ontvang.
Standard & Gazette het verlede week met Ewald Bakkes se ma, Annette, gepraat en dit was vir haar moeilik om te beskryf hoe sy gevoel het.
“Dit is onbeskryflik. Hulle sal vreeslik gemis word en sal altyd in ons harte bly,” het sy gesê.
Woensdag, twee dae ná die ter aarde bestelling, het sy gesê sy is nog té emosioneel om oor die begrafnis te praat.
“Dis te moeilik om nou daaroor te praat. Ek is emosioneel vandag. Wat ek wel kan sê, is die ondersteuning wat ons van wyd en syd ontvang het, is ongelooflik. Die ondersteuning van die skool, die gemeenskap en sportspanne is wat ons hierdeur gedra het. Hoe sê ’n mens ooit dankie vir so iets?”
Ethan was ’n gr. 10-leerder by Worcester Gimnasium, terwyl sy vriendin ’n gr. 9-leerder is.





