Die lang verwagte Nasionale Kolwyntjiedag vir Kinders met Kanker (National Cupcake Day 4 Kids with Cancer) vind Saterdag 28 September plaas. Hierdie geldinsamelingsinisiatief vind by verskeie winkelsentrums plaas, en die Mountan Mill Mall is een daarvan.
Hierdie geleentheid vind sedert 2012 plaas om geld in te samel vir Cupcakes of Hope, ’n organisasie sonder winsbejag, wat bystand en ondersteuning bied aan die gesinne en kinders by wie kanker gediagnoseer is. “Ons het meer as 10 000 pasiënte oor die afgelope 10 jaar bygestaan,” sê Sandy Cipriano, stigter van Cupcakes of Hope.
“Ek en my man het begin om geld in te samel vir kinders met kanker toe ’n vriendin haar driejarige aan kanker verloor het. In 2012 het ons die organisasie sonder winsbejag as Cupcakes of Hope geregistreer. Sedertdien is meer as R10 miljoen deur die gemeenskapsgedrewe Nasionale Kolwyntjiedae ingesamel om elke maand aan honderde jong kankerpasiënte en hul gesinne te voorsien. Dit sluit in om hul mediese rekeninge en ander noodsaaklike behoeftes te dek – van doeke tot voeding en alles tussenin. Die jongste pasiënt wat gehelp is, was net vier maande oud.”
Die Cupcake Angels (vrywillige bakkers) is die stigting wat alles ondersteun wat deur die organisasie gedoen word. Hulle is reg oor die land geleë en maak en verkoop kolwyntjies en skenk die geld aan Cupcakes of Hope.
Sedert 2020 het die aantal pasiënte wat ondersteun word, vervierdubbel. Tussen Januarie en Julie vanjaar is 1 608 finansiële versoeke ontvang, waarvan 334 in die Wes-Kaap is.
“God het ons saak waarlik geseën met die wonderlikste vrywilligers in die wêreld,” sê Cipriano. “Duisende bakkers en vrywilligers gee die hele jaar, elke jaar, hul tyd, bestanddele, liefde en passie. Daar is eerlikwaar niks soeter vir my as om die opgewondenheid en vreugde te sien wat almal op ons grootste dag van die jaar wys nie.”
. Registreer nou om deel te neem aan Nasionale Kolwyntjiedag. Kontak Annelize Orton, Mountain Mill Mall-bemarkingsbestuurder, by 083 381 5890 om kolwyntjies vir die sentrum se stalletjie te skenk.





