Die Wellingtonse oumagrootjie, Susana “Sarie” de Villiers (67), wat bykans twee jaar ná die dood van haar agter-kleinkinders aangekla is van moord, nalatige bestuur asook strafbare manslag, het weer op 2 Augustus in die Worcester-streekhof verskyn waar die saak weer uitgestel is volgens die klagstaat wat die Standard besigtig het.
De Villiers het op 20 November 2021 sowat 80 m by die berg van Bainskloofpas afgery, en die dood van Caleb (8), Gradwell (5), en Joshua (2) Booysen veroorsaak, terwyl sy self die ongeluk oorleef het.
Die drie kinders het die dag by De Villiers, haar man en hul oupa, Carl Smit, in Wellington gekuier.
Sarie is later die middag met die kinders in haar motor weg en was veronderstel om die drie broers by hul pa, Carl Smit jr., se huis in Groenheuwel, Paarl-Oos, af te laai.
Die kinders het egter nooit by hul pa aangekom nie.
Sarie het met hulle by Bainskloofpas opgery, deur versperrings wat opgerig is weens padwerke.
Op die kruin van die pas het die motor waarin sy en haar agter-kleinkinders gery het van die pas afgestort. Al drie kinders is oorlede, maar Sarie het wonderbaarlik oorleef. Ná die ongeluk was sy vir weke lank in Paarl-hospitaal.
Die saak is voorlopig tot 5 Oktober uitgestel.


