Die wenner van die Pietman Hugo-trofee vir die beste produsent met vyf wenwyne is Badsberg, vir die rekord agste keer. Van links is Jaco Booysen met die JG Graue-trofee vir die kampioen chardonnay, Henri Swiegers met die Pietman Hugo-trofee en Christiaan Nigrini met die HJ Etchell-trofee vir die kampioen dessertwyn.


Badsberg-kelder in Breedekloof het die agtste keer tydens die SA Kampioen-jongwynskou die Pietman Hugo-trofee vir die wynmakery wat die meeste punte met sy vyf beste wyne behaal, gewen.

Badsberg het ook nasionale trofeë ontvang vir sy Badsberg Chardonnay (gehout) en Badsberg Hanepoot Jerepigo. Slanghoek-wynkelder se Sauvignon blanc/Sémillon is as die beste wit versnit aangewys.

Danksy dié prestasies het Breedekloof-Worcester met vier nasionale trofeë die beste vertoning as distrik gelewer, gevolg deur Paarl met drie, Oranjerivier en Klein Karoo met twee elk en Stellenbosch en Swartland met een elk. ’n Gehoute chenin blanc van De Wet-kelder is die nasionale kampioen in die chenin blanc-afdeling. Montagu-wynmakery se Colombar is die kampioen ander wit kultivar. Van Loveren-familie-wingerde buite Robertson het die nasionale kampioen natuurlike soet muskadel opgelewer.

Slanghoek-wynkelder
Slanghoek-wynkelder se Sauvignon blanc/Sémillon is as die beste wit versnit aangewys. Van links is Christo Pienaar (voorsitter SANWSA), Jacques de Goede, Elaine Conradie, Werner du Plessis (almal van Slanghoek) en Pieter van Wyk (Agri-Expo).

’n Gehoute shiraz van die Diemersdal-wynlandgoed in Durbanville het die prestigeryke Genl. Smuts-trofee as algehele SA kampioen jongwyn van 2022 verower nadat dit ook met die trofee vir die beste Suid-Afrikaanse shiraz (gehout) by die SA Jongwynskou bekroon is.

Die Genl. Smuts-trofee is 18 jaar laas aan ’n shiraz toegeken – in 2004. Dit is die tweede keer sedert 2013 dat Diemersdal-wynlandgoed die Genl. Smuts-trofee wen toe hy dit destyds met ’n sauvignon blanc verower het. Dit is die vierde keer in dié 190-jarige kompetisie dat ’n shiraz die toekenning losslaan – vanjaar as die 71ste wenner van die Genl. Smuts-trofee.

Die 1 218 inskrywings is deur 50 spesialisbeoordelaars op 14 panele in oënskou geneem.

Twee van Oranjerivier-wynkelders (OWK) het elkeen ook puik presteer met trofeewenners vir sy OWK Grootdrink- Pinotage (gehout) en OWK Kakamas- Sauvignon blanc (gehout).

Die ander SA kampioene is Darling-kelder se Sémillon (gehout), Landskroon-wyne se Cabernet Sauvignon (gehout), KWV Merlot (gehout), ander rooi kultivar – Flagstone- Petit Verdot (gehout), rooi versnit – Perdeberg wyne Pinotage/Cabernet sauvignon/shiraz (gehout), Jakkalsvlei-wynkelder rooi muskadel jerepigo en Kaapse styl – De Krans-wyne Cape Vintage.

Die nasionale trofeewenners
Die nasionale trofeewenners saam met die borge. Agter is Christiaan Nigrini en Jaco Booysen (Badsberg), Hermias Volgraaff (Montagu-wyne), Johan Ehlers (Agri-Expo), Reon Richter (Darling Cellar), Janeke Beck (Diemersdal), Christo Pienaar (voorsitter SANWSA), Wilene Roelofse (Flagstone-wynkelder), Elaine Conradie (Slanghoek-wynkelder), Izelle van Blerk (KWV), Mynhardt van der Merwe (OWK Grootdrink) en Pieter van Wyk (Agri-Expo). Voor is Marko Pentz (OWK Kakamas), Tertius Jonck (De Wet-kelder), Chris Crafford (Van Loveren), Henri Swiegers (Badsberg), Juandre Bruwer (Diemersdal), Annemi Nel (De Krans-wyne), Albertus Louw (Perdeberg-wyne), Louis van der Riet (Jakkalsvlei) en Fanie Geyser (Landskroon).

Die voorsitter van die jongwynskou, Christo Pienaar, het gesê die gehalte van die jongwyne het hom vanjaar beïndruk. “Dit is opmerklik dat die nasionale wenners van oor die hele land se wynproduksiegebiede kom, sowel as van ’n verskeidenheid soorte wynmakerye. Ek wil graag al die kelders wat deelgeneem het vir hul deurlopende ondersteuning bedank.”

Die twee onderskeie wenners van die Genl. Smuts- en Pietman Hugo-trofeë kan intussen uitsien na ’n geborgde ses-daagse reis na Duitsland danksy ’n vennootskap wat in 2019 aangekondig is tussen SANWSV en Porex, ’n prominente Paarlse voorsiener van masjinerie en wynboutoerusting aan die bedryf vir ’n verteenwoordiger elk van Diemersdal en Badsberg. Hulle sal aansluit by verlede jaar se wenners, die keldermeesters van Badsberg en Spier, asook die wenners van 2020, Flagstone en Badsberg se keldermeesters, wat weens beperkte reisreëlings nie destyds oorsee kon gaan nie. Die stel wynmakers sal ’n bekende gismaatskappy en filtrasie-aanleg, sowel as verskeie wynkelders en ’n tegniese skou in Duitsland besoek. Die SA Jongwynskou is een van die oudste wynkompetisies ter wêreld, dateer terug tot 1833 en is dus nou in sy 190ste jaar.

Die Kaap die Goeie Hoop-landbou­genootskap, wat die bemarkingsnaam Agri-Expo in 1996 gevestig het, is sedert die Jongwynskou se stigting aktief as eienaar by hierdie merkwaardige kompetisie betrokke en het sy verbintenis as beskermheer tot vandag gehandhaaf. Terselfdertyd het Agri-Expo die SA nasionale wynskouvereniging (SANWSV) as organiseerder met die besonder indrukwekkende versameling goue en silwer trofeë, wat jaarliks aan die wenner-wynmakers toegeken word, toevertrou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article