’n Ma van Timstraat in Riverview, Worcester, was dankbaar vir twee buurvroue wat kon hand gee toe haar baba onverwags opgedaag het.
Edwina Davids en Valrick Rosant het beplan dat hul baba in die hospitaal gebore sou word, maar klein Liam het ander planne gehad. “Ek het deur die nag rugpyn gehad, maar was nie seker of dit beteken die baba is op pad nie,” het Edwina vertel.
“Ek het net van die dorp af gekom toe kom roep iemand my – ‘kom help, die bure se baba is op pad!’,” vertel Mienie Solomon, wat langsaan woon. “Dit was te laat vir die hospitaal en die ma kon nie meer loop nie. Hulle was baie benoud.”
Iemand het die hospitaal gebel, maar klein Liam was vinniger as die ambulans.
“Gelukkig was ek nie alleen nie en ’n vrou wat oorkant die straat woon, het ook kom help. Ek het heeltyd gebid dat die baba veilig sal wees.”
Monique du Bruin, ’n stafverpleegster by die Worcester-hospitaal, was gou by om te help. “Ek het nie ervaring om babas te vang nie, maar die adrenalien en mediese kennis het gelukkig ingeskop. Die ambulansmense het my gevra om die naelstring te knip – dit was ’n wonderlike ervaring.”
Dit is die derde baba in Timstraat wat Solomon (75) die wêreld in gehelp het. Sy vertel dat sy as jong meisie graag verpleegkunde wou studeer en babas wou vang. “Ek het egter nooit die geleentheid gehad nie, maar bygestaan tydens bevallings en só by die susters geleer wat gedoen moet word. Die noodlot het dit nou so gehad dat dit al ’n paar keer in my lewe gebeur het dat mense my roep, want die ma kon nie meer betyds by die hospitaal kom nie.”
Twee ander vroue in Timstraat het ook haar hulp nodig gehad en hul babas het die lewe veilig betree. Jare gelede was daar twee ander uitdagende gevalle. Iemand het geroep dat ’n vrou in die pad staan en haar baba is op pad. Solomon het gaan help en die baba is net daar in die pad gebore. In nog ’n geval moes sy ’n ma by kerslig help. “Ek sê altyd vir die ma’s hulle moet betyds by die hospitaal uitkom; dit is die veiligste. Ek is baie bly dat hierdie seuntjie sonder komplikasies gebore is.”
Edwina is ná twee dae uit die Worcester-hospitaal ontslaan en baba Liam is mooi gesond en sterk.





