’n Babalykie is in ’n vlak graf in die Koue Bokkeveld gevind.
“Die kind se lyk is Saterdagoggend om 10:50 gekry. Dit is in ’n vlak graf van ongeveer 10 cm op die plaas Kromfontein gekry. Iemand het geloop om beter selfoonontvangs te kry en gesien ’n hond en ’n kat krap iets uit. Hy het toe op die gru-vonds afgekom,” verduidelik ’n woordvoerder van die Prince Alfred Hamlet-polisiekantoor.
In hierdie stadium is dit egter nog onbekend wat die geslag van die baba is.
“Ons kan ook nog nie sê wat die oorsaak van die baba se dood was nie. Die lyk was al in ’n gevorderde stadium van ontbinding en het geen klere aangehad nie. Die linkerarm was al los en het langs die lyfie gelê. Dit is so hartseer om te sien dat iemand ’n perfekte baba so kan weggooi.”
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
“ ’n Lykskouing sal nog hierdie week gehou word.
“Ons het met die plaaslike vroedvrou gesels. Niemand daar kon sê of hulle van iemand weet wat swanger was nie. Maar ons weet van ’n vrou in die omgewing wat so twee weke gelede nog swanger was, maar sy is nou nêrens te vinde nie. Ons beoog om ’n DNS-toets te laat doen.”



