Op net sewe maande oud is Jomiaycah Pike afhanklik van medikasie om sy lewer te help funksioneer en moet hy so gou moontlik ’n leweroorplanting ondergaan.
Sy ma vertel toe hy ses weke oud was, het sy opgelet iets is nie lekker nie.
“Ek het opgelet sy geelsug gaan nie weg nie. By die kliniek het hulle vir my gesê dis normaal. Maar op agt weke het ek opgelet die regterkant van sy maag is geswel en sy hele liggaam was geel. Hy is toe vir ’n week in die hospitaal opgeneem. Daar het die dokters my ingelig dat my seun met ’n vergrote lewer gebore is. Ons is na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas en biliêre atresie is by hom gediagnoseer,” verduidelik die seuntjie se ma, Vanessa Flink.
Biliêre atresie is ’n blokkasie in die buise wat gal van die lewer na die galblaas vervoer. In Tygerberg-hospitaal het klein Jomaiycah ’n operasie ondergaan.
“Die dokters het van sy verteringstelsel afgesny en aan sy lewer geheg sodat dit met die funksie daarvan kon help. Hy was toe net twee maande oud.” Maar Flink het opgelet haar seun se toestand toon nie veel verbetering nie.
“Met ons opvolgbesoek op 4 April het hulle bloed getrek en getoets. Die toetse se resultate het getoon dat die operasie nie suksesvol was nie en dat sy hele lewer siek en hard is. Hy kry tans medikasie wat die lewer help funksioneer.”
Maar saam met die uitslae het sy ook ander ontstellende nuus ontvang.
“Hulle het gevra met ons volgende besoek dat baba se pa ook moet saamgaan. Ek gaan gewoonlik alleen omdat hy werk. Hulle gaan toets om vas te stel of ek of sy pa dalk vir hom ’n nier kan skenk. Maar hulle het ook gesê as een van ons nie kan nie, moet hy op die waglys geplaas word.”
Sy noem ook dat hierdie ’n besonder moeilike tyd vir hulle as gesin is. “Ek en sy pa staan op trou. Maar as gevolg van al die hospitaalbesoeke, vier keer per maand, het ons besluit om ons troue uit te stel sodat ons die geld wat ons gespaar het vir daai onkoste kan gebruik. Die hospitaal het ook gevra of ons geld sal hê om ná die oorplanting al my seun se nasorg mediese onkoste te dek. So dis waarheen ons nou werk.”
Flink voeg by dis die eerste keer dat sy met so ’n ernstige siekte te doen het.
“Voor sy diagnose was dit iets waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Al waaraan ek heeltyd gedink het ná die diagnose was wat as ek my nooit ontferm het nie? Wat as ek nie betyds by die hospitaal uitgekom het nie?”
’n Weldoener, Marquenice Brinkhuys, het besluit om die familie by te staan.
“Ek het ’n Back-a-buddy-blad begin en gaan Vrydag 14 Junie ’n roeti-en-kerrie-verkoping hou.” Flink voeg by sy wil nie inhalig wees nie, en wil graag deur middel van die geldinsamelingsblad minstens R20 000 insamel.
Vir meer inligting oor roeti- en kerriebestellings of hoe om op die Back-a-Buddy-blad ’n skenking te maak, kan Brinkhuys by 082 959 7822 gekontak word. Of besoek die volgende skakel https://www.backabuddy.co.za/campaign/jomiaycah-miles-pike-liver-transplant.





