Mense moenie verbaas wees as hulle hierdie winter op ’n boom of drie afkom waaraan baadjies of ander warm kledingstukke hang nie.
Dit is alles deel van die landwye Baadjies aan bome-projek, waardeur duisende kledingstukke aan behoeftige mense in ’n unieke omgee-gebaar geskenk word.
Hierdie inisiatief is gestig deur Madeleen van den Berg, die bestuurder van die projek in Suid-Afrika.
Van den Berg, wat in die finansiële wêreld werk, het tydens die Covid-19-pandemie-inperking op sosiale media gesien hoe ’n kind van Turkye sy baadjie uittrek en aan ’n boom hang sodat iemand wat koud kry, in die winter warm kan wees. Sy is so daardeur geraak dat sy dadelik daaraan begin werk het om so ’n projek in Suid-Afrika te begin.
In Engels staan dit bekend as “Free on a Tree” en die beweging het in 2018 begin toe Oliver Edwards van Tasmanië, Australië, as deel van ’n skoolprojek besluit het om hawelose mense te help.
Hy het ou baadjies geneem, dit aan bome gehang en ’n boodskap daarby gelos sodat mense weet hulle kan dit vat as hulle dit nodig het.
In Suid-Afrika het die projek onmiddellik vlamgevat.
Verlede jaar is sowat 25 000 kledingstukke in verskillende veldtogte landwyd aan bome gehang.
Op tuisbodem het Worcester Lions en Boland Boudjies saamgespan om die Baadjies aan bome-projek te ondersteun.
Hulle benodig skenkings of bestanddele vir sop en brood sowel as produkte (enige klere, komberse ens.) wat hulle vir dié doeleinde aan die bome kan hang.
. Worcester Lions en Boland Boudjies gaan Vrydag (5 Julie) ’n groot geleentheid aanbied waartydens behoeftiges gehelp gaan word. Die publiek word daarheen genooi.
Dié geleentheid sal van 10:00-12:00 by die Worcester-Lionsklub, Kluestraat 50, Hospital Hill, Worcester, plaasvind, waartydens die publiek skenkings kan bring en behoeftiges kledingstukke kan kom haal.
Daar gaan ook heerlike sop wees vir almal wat ’n baadjie of ander produkte gratis kom afhaal. Bel Mieke by 082 376 1707 vir nog inligting.





