Die Avianpark-kliniek in Pelikaanstraat se deure is oop!
Die eerste pasiënte is Vrydag 1 Julie by die kliniek, wat teen ’n koste van sowat R30 miljoen gebou is, ontvang.
Die beplanning het reeds in 2010 begin toe ongeveer 6 000 inwoners in die omgewing gewoon het.
Tussentydse gesondheidsdienste is by satellietklinieke, ’n mobiele kliniek en ’n omskepte vraghouer gelewer, maar nou kan die gemeenskap van sowat 19 000 inwoners die volle pakket van primêre gesondheidsorgdienste by een dienspunt ontvang.
Die amptelike opening van die kliniek sal plaasvind tydens ’n besoek van die Wes-Kaapse minister van gesondheid, maar intussen is gesondheidswerkers opgewonde om inwoners se behoeftes na gesondheidsdienste die hoof te bied.
“Ons besef daar is ’n groot behoefte aan gesondheidsdienste,” het dr. Danie Theron, bestuurder van mediese dienste by die departement van gesondheid in die Breedevallei, by die nie-amptelike openingsgeleentheid gesê. Die kontrakteur en infrastruktuur-span was gaste by dié geleentheid op 30 Junie.
Die kontrakteur het opleiding aan die personeel gegee om die gevorderde stelsels – soos onder meer die beveiliging – te gebruik.
Die kliniek bestaan uit twee vleuels met agt ondersoekkamers en ’n plek waar terapeute dienste lewer.
“Ek is baie opgewonde oor die kliniek. Dit is ’n nuwe uitdaging vir my.
“Die gemeenskap sal ’n volle pakket dienste ontvang en die kliniek bring dienste nog nader aan baie mense,” sê sr. Melissa Vermeulen, die bedryfsbestuurder.
“Ek is trots om leiding te neem van ’n goed opgeleide span en dit by ’n splinternuwe kliniek. Ons sien baie daarna uit om die gemeenskap te dien.”
Dienste wat hier gebied word, behels:. Behandeling van akute siektetoestande;. identifisering en behandeling van kroniese toestande;. voorkomende dienste soos immunisering van kinders;. Gesinsbeplanning;. Rehabiliteringsdienste soos fisioterapie en arbeidsterapie;. Covid-19-inenting.
“Min mense het die voorreg om in ’n nuwe kliniek te begin werk. Dankie aan die personeel vir jul entoesiasme en dat julle, saam met die gemeenskap, na die kliniek sal omsien,” het Theron gesê.
V Dienste word Maandae tot Vrydae van 07:30 tot 16:00 gelewer. Die kliniek se nommer is 023 814 2599.





