Daryll Thomas (25), ’n Worcesteriet in murg en been, het een van sy vele talente die afgelope naweek ten toon gestel toe hy as een van die wenners van die Talento-sangkompetisie aangekondig is.

Dié sangkompetisie lok jaar op jaar talle ywerige sangers, en dié keer was dit Thomas se beurt om te wen nadat hy in 2022 ook ingeskryf het, maar nie met ’n prys weggestap het nie.

Vanjaar het Thomas egter sy stem dik gemaak en in die jazz-onderafdeling “One and Only” van Adele gesing, en in die Afrikaans-onderafdeling “Gums Kawielie Wams” van Emo Adams.

Hy het albei hierdie kategorieë gewen, asook die ope-afdeling as geheel.

Thomas het in Roodewal grootgeword, maar woon tans in Avianpark en hou skool by Esselenpark Sekondêre Skool, waar hy tegnologie en natuurwetenskappe vir die gr. 8-klas aanbied.

“Ek het jare terug, op driejarige ouderdom, met musiek begin toe ek in die kerk gesing het, asook op Laerskool Esselenpark,” sê hy.

Tydens sy hoërskoolloopbaan het hy ook aan verskeie sangkompetisies deelgeneem, met die eerste een wat hy in 2013 gewen het.

Hy het ook met die gewilde Emo Adams skouers geskuur toe hy gedurende sy hoërskooljare saam met hom opgetree en het ook aan die plaaslike Gemini-sangkompetisie deelgeneem.

Ná matriek het hy vir eers sy sangtalent weggebêre – tydens sy studiejare by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) se onderwysdepartement in Wellington – totdat hy sang in 2022 hervat het.

Wat is dié talentvolle sanger se toekomsplanne?

Volgens hom sal alles gebeur “soos dit moet, deur God se hulp”.

Hy beplan wel om eendag ’n CD vry te stel, asook om in sy loopbaan as onderwyser te groei.

Thomas het ook laggend verduidelik dat die gr. 8-leerders wat hy onderrig baie “opgewonde” is oor die feit dat hul “meneer” gewen het.

Dié gr. 8-leerders voel hy moet sy prysgeld gebruik om vir hulle almal lekkernye te koop.

Buiten Thomas se sangtalent, is hy ook ’n ywerige rugbyspeler en draf hy tans uit vir Worcester Villagers as skrumskakel en vleuel, terwyl hy ook hoërskoolrugby by Esselenpark Sekondêr afrig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article