’n Tuishulp-program is ’n ondersteuningsdiens wat daargestel is deur Breedevallei APD aan mense wat ’n beroerte gehad het.


Beroerte-rehabilitasie is ’n belangrike deel van herstel ná die beroerte. Navorsers het bevind dat mense wat aan ’n gefokusde beroerte-rehabilitasieprogram deelneem, beter presteer as die meeste mense wat nie beroerte-rehabilitasie ontvang het nie. Daarom word beroerte-rehabilitasie aanbeveel vir alle mense wat deur beroerte geraak word.

Die versorging tuis is uitdagend en sommige mense ontwikkel mobiliteitsuitdagings wat beweging ná beroerte inperk. ’n Beroerte kan ook breindele beïnvloed wat kommunikasie bemoeilik, dit wil sê ’n persoon se vermoë om te praat word beïnvloed. Dioe meeste mense wat herstel van ’n beroerte se daaglikse aktiwiteite, byvoorbeeld selfversorging soos om kos voor te berei, om te eet of te sluk, om te bad, aan te trek asook die toilet te gebruik, is ingeperk. Baie mense se geheue asook hul vermoë om probleme op te los word deur ’n beroerte geaffekteer. Party mense kan nie meer hul werk verrig soos hulle dit voorheen gedoen het nie, want as gevolg van fisieke en kognitiewe inperkings daal die gehalte van werk wat verrig word en moet hulle baiekeer hul werksplek verlaat. Al hierdie inperkings werk negatief op die persoon se emosionele en psigiese welstand in.

’n Tuishulp-program is ’n ondersteuningsdiens wat daargestel is deur Breedevallei APD aan mense wat ’n beroerte gehad het. Hierdie ondersteuningsdiens word tans aangebied in die Worcester- en Zweletemba-gebiede. Die maatskaplike werker identifiseer die mense in die gemeenskap wat die dienste benodig en verwys hulle na die tuishulp-assistent wat weekliks huisbesoeke doen. Ondersteuning word gebied deur middel van rehabilitasie-oefeninge, hulp met daaglikse aktiwiteite tuis, bywoning en ondersteuning met besoeke aan die hospitaal, leer om medikasie betyds te neem, die bestuur van mediese afsprake, kos voorbereiding, kommunikasie met ander, oefeninge vir spraak en fisieke terapie, emosionele ondersteuning, asook hulp met die aanpassing in die samelewing. Die diens word tuis gelewer en help die persoon om in sy onmiddellike omgewing aan te pas en so ver moontlik weer onafhanklik te funksioneer. Hierdie diens bied ook verligting aan die gesin, aangesien die gesin se daaglikse roetine dikwels omvergewerp word as gevolg van die persoon wat die beroerte gehad het.

Breedevallei APD was bevoorreg om in Februarie 2023 met die tuishulp-program te begin en ons het reeds 17 gesinne met hierdie program gehelp. Mense wat hoop verloor het om ooit weer onafhanklik te wees ervaar nou verligting deurdat hulle onafhanklik uit die bed kan klim, die badkamer kan gebruik, kan eet en buite rondbeweeg, asook praat oor hul frustrasies en bekommernisse. Die bietjie aandag en ondersteuning maak ’n groot verskil in die gehalte van die persoon met ’n beroerte, sowel as die gesin se lewe.

Vir verdere inligting of verwysing, kontak die maatskaplike werker van Breedevallei APD, mev. Jurene Horne, by 023 347 2002.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article