Een van Worcester se mees geliefde inwoners het Sondag (1 Desember) ’n besonderse mylpaal in haar lewe behaal toe sy haar 100ste verjaardag saam met familie en vriende gevier het.
Maria Matthews, oftewel Ant Tossie of Suster – soos sy geliefd onder baie bekendstaan – het Sondagmiddag die koppe behoorlik laat draai toe sy onder luide toejuiging in ’n Pontiac, wat uit die jare sewentig dateer – begelei deur motorfietsryers van die Worcester Bikers – na Kleinplasie vervoer is, waar ’n glansgeleentheid op haar gewag het.
Uitgevat met ’n tyara op die hoof geplant, het Suster op pad na die verrigtinge kompleet soos ’n koninklike vir almal wat haar toegejuig het, vanuit die antieke motor gewuif.
Ant Tossie is 100 jaar gelede in Tulbagh gebore en het tot in haar tienerjare saam met haar ouers, wyle Josef (Soppie) en Johanna Heyns, en haar (Ant Tossie se) vyf sibbe (drie broers en twee susters) op die plaas Twee Jonge Gezellen in Tulbagh gewoon.
Ant Tossie was die oudste. Al haar sibbe is reeds oorlede.
Sy sê aan Standard Breederivier Gazette sy was maar 16 jaar oud toe sy haar sakke gepak en Worcester toe verhuis het. In Worcester het sy vir 40 jaar as huishulp by die Kroone-gesin in Riebeeckstraat gewerk.
Terwyl sy daar gewerk het, het sy gereeld vir haar ouers geld Tulbagh toe gestuur.
Volgens Ant Tossie het sy haar man, John Matthews, ontmoet terwyl sy in Worcester gewerk het. “Hy was ’n baie liewe man. Ons het ’n baie lieflike lewe saam met mekaar gehad.”
Ant Tossie en Oom John het ’n aangenome dogter, Jacoba Matthews, wat hulle soos hul eie grootgemaak het.
Jacoba, ’n oud-onderwyseres, versorg tot vandag toe nog vir Ant Tossie.
Ant Tossie sê Oom John was iets in die sestig toe hy haar ontval het.
Volgens haar lees sy tot vandag toe nog gereeld koerante en leesboeke. Sy sê sy is boonop baie lief vir gesels. Ant Tossie hou ook daarvan om Saterdagmiddae na langarm-musiek op die gemeenskapsradiostasie Vallei FM te luister. Haar gunsteling-liedjie is “Jaloers Bokkie”.
Volgens Ant Tossie skort absoluut niks met haar gesondheid nie. “Ek het nooit gerook of gedrink nie, so ek voel baie gesond. Ek is baie dankbaar vir die Here vir die 100 jaar.”
Sy sê een van haar gunsteling-Bybelverse is: “Eer jou vader en jou moeder sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op aarde.”
Ant Tossie sê dit is presies wat sy gedoen het.





