Die toekoms van Afrikaanse musiek lyk belowend met Anja, ’n talentvolle nuwe sangeres uit die Breedevallei, wat haar merk in die bedryf maak.
Haar jongste enkelsnit, “Chevy”, is die storie van jeugherinneringe en drome – ’n perfekte kombinasie van rou emosie en opregte lirieke.
Dit gee ’n besonderse gevoel wanneer jy ’n liedjie hoor en besef dis ’n treffer.
Anja, ’n jong ster van Rawsonville, het die hartsnare van haar aanhangers oor die land heen met haar vars klanke aangeraak. Haar uniekheid en kreatiewe sangvermoë het haar vinnig die next big thing in die Afrikaanse musiekbedryf gemaak.
Anja is bekend vir haar oorspronklike en lewensgetroue musiek wat sy self skryf en sing. Sy deel haar lewenservaringe en stories op ’n manier wat luisteraars dadelik boei. Sy het reeds ’n groot aanhang op sosiale media danksy treffende lirieke en ’n unieke stem en het selfs die oor van internasionale gehore gevang.
Anja, wat in Port Elizabeth gebore is, het op ’n jong ouderdom onder leiding van haar ma begin klavier speel.
Haar liefde vir musiek het oor die jare gegroei en teen 17 het sy begin liedjies skryf. Sy het haar passie finansieel ondersteun deur wiskundelesse te gee, wat haar gehelp het om haar eerste kitaar te koop.
Die Covid-19-pandemie het haar laat waag om haar eerste liedjie, “Mr Rona”, op Facebook te deel – en die positiewe reaksie het haar selfvertroue ’n hupstoot gegee.
Anja se loopbaan het met haar oorspronklike musiek en unieke verwerking van bekende liedjies vinnig momentum gekry. Haar Afrikaanse weergawe van Bruce Springsteen se “Tougher than the Rest”, getiteld “Sterker as die res”, is meer as een miljoen keer op Facebook gekyk en is ook op RSG gespeel. Hierdie ondersteuning het haar aangespoor om aan te hou en haar Facebook-blad het al meer as 44 000 aanhangers.
Anja se styl kombineer elemente van pop- en countrymusiek en ’n tikkie 80’s-invloed. Haar musiek vertel stories met emosie en karakter – iets wat haar aanhangers dieper met haar werk verbind. Elke liedjie word sorgsaam saamgestel met ’n eie unieke styl wat dit herkenbaar en onvergeetlik maak.
Met haar jongste enkelsnit wys Anja weer waarom sy ’n opkomende ster is. Die liedjie, wat ’n nostalgiese terugblik op herinneringe en jong drome bied, het reeds as ’n treffer in wording aandag getrek.
Die musiekvideo vang die hart van die liedjie vas – ’n eerlike blik op die pad van liefde en vriendskap.
Anja se planne sluit meer Afrikaanse en Engelse liedjies in en sy het onlangs saam met ’n orkes begin optree. Haar aanhangers kan uitsien na opwindende vertonings, met haar volgende vertoning op 7 Desember by Toeka in die Agter-Paarl.
. Loer in by www.facebook.com/ANJAmusiekSA en volg Anja se musikale reis.





