Adrienne Murray is vanjaar as die Pionierskool se topmatrikulant aangewys nadat sy met ’n gemiddeld van 75,4% in die 2022-matriekeksamen weggestap het. Sy het ook vier onderskeidings in Engels (huistaal), Afrikaans (eerste addisionele taal), lewensoriëntering asook lewenswetenskappe behaal.

Volgens Elizma Berlyn, die bemarker by die Pionierskool, is Adrienne die enigste blinde leerder wat tydens die 2022-matriekeksamen wiskunde en lewenswetenskappe geneem het en ook ’n onderskeiding in lewenswetenskappe behaal het.

“Toe Adrienne in graad 10 kom, wou sy wiskunde en lewenswetenskappe neem, maar die skool het dit nie aangebied nie,” het Cindy Murray, Adrienne se ma, verduidelik.

Dít het die Murray-gesin aangespoor om met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement te vergader oor die moontlikheid van die bekendstelling van hierdie twee vakke by die Pionierskool – iets wat toe wel gedoen is en Adrienne se hoërskoolloopbaan verhelder het.

“Wiskunde was nog altyd haar [Adrienne se] gunstelingvak, en sy het regdeur haar skoolloopbaan baie goed daarin presteer,” sê Cindy.

Volgends dié toppresteerder se ma was lewenswetenskappe die vak waarna haar dogter die meeste opgesien het, maar wel stééds ’n A-simbool losgeslaan het.

Cindy het verduidelik Adrienne se ouer suster het haar dikwels met haar lewenswetenskappe-huiswerk gehelp deur diagramme met die gebruik van rekkies te illustreer.

“Adrienne was van jongs af gretig om te leer. Sy het altyd die slimste kinders in haar klas uitgedaag,” het Cindy telefonies aan die Standard gesê.

Oogkanker is op 24 maande by Adrienne gediagnoseer, en ten spyte van ’n uitdagende matriekjaar weens verskeie gesondheidsprobleme, het sy hard gewerk en deursettingsvermoë getoon om op die ou einde as toppresteerder uit te staan.

“Adrienne het nooit ophou presteer nie en by haar omstandighede aangepas. Sy het altyd gesê: ‘Mamma, ek moet net luister en konsentreer in die klas.”

Adrienne het by die Universiteit Stellenbosch aansoek gedoen om ’n BSc-graad in dierkunde te gaan studeer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article