Matjiesfontein se legendariese John Theunissen is Sondag oorlede. Foto:

Credit: SYSTEM

Medelye van oor Suid-Afrika heen, asook uit die buiteland, het ingestroom toe die nuus van ’n bekende Matjiesfontein-inwoner se sterfte bekend word.

John Theunissen (56) het vir langer as 35 jaar by die Lord Milner-hotel in dié dorp gewerk. Vir baie was hy net bekend as Johnny en vir baie was hy ook die gesig van Matjiesfontein en die Lord Milner.

“Hy het in 1985 hier as ’n portier begin werk. Hy het eers heelwat later die gaste begin vermaak,” sê Werner Smit, die hotel se bestuurder.

Hy het ook die daaglikse toere van Matjiesfontein op die bekende rooi bus gelei. Die meeste mense op sosiale media beskryf Theunissen as ’n ikoon en legende. Dit is sekerlik weens sy persoonlikheid.

“Hy was ’n joviale entertainer. Hy was altyd gereed om saam met die gaste te sing en lekker sing-alongs te hou. Hy was altyd in ’n goeie bui en het ’n groot liefde vir mense en sy gemeenskap gehad. Hy het altyd gepraat van die passie wat hy gehad het om werk toe te kom. Hy was ook ’n baie gelowige mens. Dit was ’n groot plesier om saam met hom te kon werk. Ons gaan hom almal baie mis,” het Smit, wat vir die laaste agt jaar saam met Theunissen gewerk het, aan Standard & Gazette gesê.

Volgens Smit het Theunissen longkanker gehad. Dit is onduidelik wanneer dit by hom gediagnoseer is.

“Hy het nog die hele tyd gewerk. Hy was maar baie privaat wanneer dit by sy gesondheidsake gekom het. Maar ons kon sien hy raak al hoe meer siek. Hy is twee Saterdae gelede in die hospitaal opgeneem. Ek en my vrou het nog Vrydag by hom gaan inloer en toe sê hy vir my hy het ’n vol lewe gehad. Sondag het sy familie hom gaan groet.”

Ivan Meyer, die provinsiale minister van landbou, het die volgende Facebook-inskrywing oor Theunissen se sterfte gemaak: “Baie hartseer dag: Matjiesfontein is armer as gevolg van hierdie legende se sterfte. ’n Groot boom en ’n kulturele toerisme-ambassadeur vir die Karoo het geval. Sy rol, musiek, stories, humor, taal en liefde vir alle mense is ongeëwenaard. ’n Legende by die Lord Milner-motel in Matjiesfontein.”

Die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, het ook haar medelye in ’n verklaring gedeel.

“Die Wes-Kaap, en veral die Karoo, het ’n wonderlike mens verloor, wat vir ons almal gewys het watter skouspelagtige verskil jy kan maak in die gemeenskap waarin jy woon. Niemand wat oor die jare deur Matjiesfontein gereis het, sal ooit hierdie legendariese storieverteller en klavierspeler vergeet nie. Sy vlam is op die ouderdom van 56 heeltemal te vroeg geblus. Hy het voluit gelewe, hy het ’n verskil aan ons almal se lewens gemaak, en hy sal nooit, ooit vergeet word nie,” lui die verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article