Die bekende Breederiviervallei-wynplaas Alvi’s Drift het vanjaar weer gewys dat hy ’n tonaangewende wynplaas is.
Hy is verlede week by die Sauvignon Blanc- Top-10-kompetisie as een van die top-10 sauvignon blanc-produsente in die land aangewys.
Die beoordelaarspaneel van die 2024-kompetisie vir Suid-Afrika se topverkoperkultivar het nie minder nie as sewe wyke, ses distrikte en drie streke bekroon. Uit die 160 wyne, wat deur 91 produsente ingeskryf is, het die 2023-oesjaar uitgestaan met sewe wenners in die Top-10.
Die Top-10 is:. Alvi’s Drift Reserve Sauvignon Blanc 2023 (gehout) (Worcester); . Cederberg Wines Ghost Corner Wild Ferment 2023 (gehout) (Elim, Cape Agulhas);. Diemersdal Winter Ferment Sauvignon Blanc 2024 (Durbanville); . Flagstone Free Run Sauvignon Blanc 2023 (Kusstreek); . Hermanuspietersfontein Kat met die Houtbeen Sauvignon Blanc 2022 (gehout) (Sondagskloof, Walker Bay). Iona Elgin Highlands Sauvignon Blanc 2024 (Elgin);. Lomond Sugarbush Sauvignon Blanc 2023 (Cape Agulhas);. Maastricht The Contour Sauvignon Blanc 2023 (gehout) (Durbanville); . Stark-Condé Round Mountain Sauvignon Blanc 2023 (gehout) (Jonkershoekvallei, Stellenbosch);. Zevenwacht Z Collection Sauvignon Blanc 2023 (gehout) (Polkadraai-heuwels, Stellenbosch).
Alvi’s Drift-wynplaas, wat in die vrugbare Breederiviervallei geleë is, het ’n ryke geskiedenis. In 1930 het Albertus Viljoen “Oupa Alvi” van der Merwe, ’n bekende rugbyspeler wat die eerste drie teen die All Blacks op Afrika-bodem in 1928 gedruk het, ’n laagwaterbrug oor die Breederivier laat bou. Dié brug, wat deur plaaslike inwoners “Alvi’s Drift” gedoop is, dra steeds hierdie naam.
Oupa Alvi se kleinseun, Alvi van der Merwe, het die wynplaas na hierdie landmerk genoem ter ere van sy grootvader en die rivier wat die wingerde voed.
Alvi, wat aanvanklik as mediese dokter in Suid-Afrika, Kanada en die VK gewerk het, het altyd die droom gehad om wêreldklas-wyne van die familiewingerde te skep. Vandag word Alvi’s Drift-wyne internasionaal erken vir hul gehalte en passie.





