Alver Uys’n Titaniese rugby-derby kan Saterdag verwag word wanneer Young Hamiltons en sy bure Worcester Villagers mekaar in ’n Grootuitdaagwedstryd op Esselenpark die stryd aansê.

Hierdie wedstryd tussen twee van die bulspanne in die Langebergstreek lok jaarliks duisende entoesiastiese ondersteuners van albei spanne en dis gewoonlik rugby uit die boonste rakke op. Dit word algemeen ook gereken as een van die grootste in indien nie die heel grootste derby tussen twee amateurspanne in die Boland – indien nie in die land nie. Vanjaar is egter meer as net spogregte op die spel, want albei spanne is nog sterk in die prentjie vir liga-louere asook plek in die Top-12-uitspele, en albei blaas boonop in die nekke van die voorlopers Robertson Town, wat op 68 punte slegs twee punte voor Hammies (66) in die tweede plek en vyf voor Villa (63; derde) is nadat Boland nog geen uitsluitsel gegee het oor die drie punte teen Rangers wat nie aan Villa toegeken is nie. Alles dui dus daarop dat albei spanne alles gaan gee om Saterdag as wenners uit die stryd te tree.

Dit is veral Villa wat swaar gaan steun op sy formidabele pak voorspelers met Andries de Kock, Wendal Wehr, Mario Marinus, Benito Mc Pherson en Edward Haas aan die spits terwyl Hammies op sy vlugvoetige agterspelers sal staatmaak, soos Luciano Truter, Garth Jacobs, Ghanton Ceasar en Claudio Matolla om die doellyn op te soek – alles oorgenoeg rede vir rugby-puriste om in hul duisende na Esselenpark-stadion op te ruk; veral ook omdat Villa in die eerste derby vanjaar op Bolandpark aan die wenkant was.. Die verrigtinge begin Vrydagaand (19 Julie) wanneer die karnaval op Hammiespark met pretritte en lekker vermaak afskop. Saterdag (20 Julie) begin die wedstryde van 13:30.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article