Alita Basson saam met die SA vroue-toutrekspan se afrigter, Melanie Botha, by hul pet-toekenningseremonie. Foto: Leezelle C Tug of War Photography


Alita Basson verteenwoordig vandeesweek haar land as lid van die SA vroue-toutrekspan.

Hulle neem van 5 tot 8 September aan die wêreldkampioenskap in Mannheim, Duitsland, deel. Hulle het Maandag (2 September) vertrek en keer Vrydag 13 September terug.

Alita doen al van kleintyd af toutrek, maar toe sy twaalf jaar oud was, het sy dit ernstig begin opneem.

“Ek doen dit al van jongs af, maar toe ek twaalf was, het ek besluit om dit ernstig op te neem en ek wou dit verder vat. Ek het daardie besluit geneem met die hoop dat ek eendag hierdie – wat nou my realiteit is – kan bereik en ook om aan myself te bewys ek kan dit doen,” verduidelik sy.

Sy is in April vanjaar in die nasionale span opgeneem.

“Ek was baie bly en opgewonde toe ek in die span opgeneem is.”

Sy het bloed, sweet en trane ingesit om haar doel te bereik.

“Ek oefen vier tot vyf dae ’n week vir ten minste twee ure per dag. Ek oefen in Robertson of Strand. Die laaste ruk het ons meestal in Strand geoefen. Ek is al een uit die Wynland wat vir die span gekies is, en die res van die span oefen ook almal in die Strand,” verduidelik sy.

Alita is ’n graad 10-leerder by HTS Drostdy en maak seker sy skeep nie haar skoolwerk af nie.

“As ons in Robertson oefen, is daar nog tyd om in die aand my huiswerk te doen, maar wanneer ek in die Strand moet gaan oefen, doen ek sommer my huiswerk terwyl ons ry.”

Sy bieg dat sy wel ’n bietjie senuweeagtig is vir die toernooi.

“Ek is ’n bietjie nervous vir die toernooi, maar ek is ook opgewonde en dankbaar vir hierdie geleentheid.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article