Branden Bantam hardloop volstoom met die bal in ’n wedstryd teen Primroses Saterdag. Foto:


In ’n wedstryd wat groot belangstelling gelok het omdat albei spanne vroeë aanspraakmakers is om liga-louere in die Streekuitdaag-kompetisie van die Boland Rugbyunie, het Alberts sy bure Primroses verspotmaklik met 36-3 geklop nadat hy teen rustyd reeds 28-3 voor was – en dit nadat Alberts in sy liga-kragmeting ’n week of twee gelede slegs met 22-20 bo was.

Primroses het aanvanklik met redelike vuur begin en veral voorlangs sy man deeglik gestaan. Dit was egter Alberts wat die telbord aan die rol gesit het toe die flank Chesslin Links gaan druk het nadat die linkervleuel, Ashwill Syster, ’n skitterlopie ingekry het. Toe hy voorgekeer is, was Links by om af te rond. Die heelagter, Jaydian Buys, het met ’n moeilike doelskop geslaag.

Die telling het tot 14-0 gestyg toe die regtervleuel, Allistair Adams, in die hoekie oor is en Buys weer pragtig uit die hoekie verdoel het. Kort hierna het Primroses sy eerste maar ook enigste punte gekry toe die losskakel, Jowayne Nel, met ’n strafskop geslaag het.

Alberts kry hierna weer punte toe die vaskopstut, Keanan Neyman, met brute krag oorbars en Buys boonop verdoel om die telling na 21-3 te rek. Buys gaan hierna self verspotmaklik onder die pale oor en verdoel boonop self sy drie om die telling teen rustyd na 28-3 te laat aangroei.

Nog is dit het einde niet, want kort ná die aanvang van die tweede helfte slaag Buys koelkop met ’n netjiese skepskop om die telling te laat aangroei na 31-3.

Hoewel Primroses nooit wou bes gee nie en met mening in die wedstryd probeer terugkom het, is dit tog weer Alberts wat punte kry toe die plaasvervanger-haker, Cohen Jeftha, ná volgehoue druk oorgaan vir ’n onvervyfde drie om die eindtelling op 36-3 te staan te bring en sodoende seker te maak dat Alberts die wennerstrofee in sy vertoonkas kan plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article