Die Alberts RFC-rugbyspan se skrumskakel, Keanu Messiahs, probeer sy agterlyn wegstuur in die afgelope Saterdag (3 Desember) se wedstryd teen die Young Warriors-rugbyspan.Foto: Franco du Toit

Credit: SYSTEM

Die Alberts RFK van Worcester het Saterdag in die eerste van drie eindstryde in Bolandstadion in Wellington die Young Warriors van die Paarl in die gemeenskapskild-eindstryd 15-0 geklop nadat hy rustyd 5-0 voor was.

Young Warriors het sommer vroeg-vroeg sy stempel op die wedstryd probeer afdruk deur die wedstryd met ’n sterk aanslag aan die gang te kry.

Alberts het die aanslag egter met welslae geabsorbeer en later volle beheer met teenaanvalle oorgeneem.

Dwayne Atkins (linkervleuel) is ná ’n teenaanval enkele meter van die doellyn gestuit, en minute later net deur desperate kruisverdediging verhoed om die telbord vir Alberts aan die rol te kry.

Kort nadat William Ryneveldt (losskakel) met ’n strafskop misluk het, het Alberts wel punte aangeteken toe Carlos Wagner (agtsteman) ná volgehoue druk met brute krag oorgebars het.

Ryneveldt se doelskop was egter links verby.

Warriors het ook amper punte gekry toe Emile Johnson (linkervleuel) met skitterende dekverdediging enkele meter van die doellyn voorgekeer is.

Hierna het die Paarliete weer kans gekry om hul rekening te open, maar die losskakel, Patrick Barendse, se poging was reg verby.

Kort hierna het die twee spanne gaan water drink met Alberts ’n skamele 5-0 voor.

Met die aanvang van die tweede helfte het Alberts verwoed begin en behoorlik in sy teenstanders se gebied kamp opgeslaan.

Eers is die buitesenter en kaptein, Cameron Green, kort voor die lyn platgetrek, en kort daarna is die oopkantflank, Jolyn Pike, meters van die doellyn by die kantlyn uitgeboender.

Die plaasvervanger-binnesenter, Franklin Adams, het hierna wel vir Alberts se tweede drie oorgeduik nadat Chesslin Links (flank) omgekeerde balbesit bewerkstellig het.

Met die uurglas wat vinnig begin leegloop het, is Alberts met ’n strafskop beloon, wat sy heelagter, Jayden Buys, koelkop deur die pale gestuur het vir ’n 15-0-oorwinning, wat Alberts as kampioenspan gekroon het.

Buiten dat Alberts nou die gemeenskapskild-kampioen is, word hy boonop nou na die streekuitdaag-kompetisie gepromoveer, waar hy volgende seisoen sy talente verder kan ten toon stel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article