Alberts-rugbyklub het Primrose Saterdag (9 Maart) op Bolandpark naelskraaps met 24-22 geklop.

Primrose, wat die wedstryd begin het, was onmiddellik op die aanval en het eerste punte aangeteken met ’n vinnige strafskop deur die losskakel, Jowin Nel, wat seker gemaak het van die skop (telling 3-0 vir Primrose).

Alberts het egter kort hierna ook met ’n suksesvolle strafskop geantwoord.

Alberts het op Primrose se doellyn geboer, maar Primrose het met ’n lynskop verligting gebring, die lynstaan gewen, onmiddellik aangeval, maar fouteer. Alberts het die bal gekry en die kantlyn opgesoek. Primrose het die lynstaan weer gewen en veld-op gespeel. Alberts is tot foute gedwing vir ’n strafskop, maar die poging was onsuksesvol.

Ná die inskop het Primrose die bal gekry, weer aangeval en weer ’n strafskop gekry, maar ’n skrum gekies en oor die doellyn gebeur. Alberts het egter fouteer en Primrose is ’n strafdrie toegeken (telling 10-3 vir Primrose).

Primrose se voorspelers het die skrums oorheers, maar Alberts het moedig teruggeveg, omgekeerde besit gekry, sy agterlyn weggestuur en gedruk (doelskop mis; telling 10-8 vir Primrose). Dit was ook die rustydtelling.

Primrose se dissipline het hom in die tweede helfte in die steek gelaat en Alberts het weer ’n strafskop gekry (telling 11-10 vir Alberts). Alberts het uitstekende rugby begin speel, die druk daar gehou en ’n drie gedruk (doelskop oor; telling 18-10 vir Alberts)

Primrose het egter teruggekom en hom weer op die aanval geplaas, maar hanteerwerk het hom in die steek gelaat. Alberts het dit uitgebuit, tot die aanval oorgegaan, ’n strafskop afgedwing en weer seker gemaak met die skop (telling 21-10 vir Alberts).

Alberts het pragtige rugby gespeel en Primrose telke male onder druk geplaas, maar Primrose het nie bes gegee nie.

Primrose het in die laaste paar minute alles gegee, en toe hy weer die bal kry, het die flank Ronaldo Lukas gaan druk. Die doelskop was egter mis (telling 21-15 vir Alberts).

Alberts het weer ’n strafskop gekry en die telling 24-15 in sy guns gemaak.

Die twee het vir lewe of dood voor die eindfluitjie gespeel, maar Primrose het die bal bemeester en sy skrumskakel, Tyrique Williams, het die bal en gaan druk.

Die losskakel, Jowin Nel, het seker gemaak van die doelskop – eindtelling 24-22 vir Alberts.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article