Alberts het Saterdag op Bolandpark onteenseglik bewys dat hy bereid is om in ’n hoër liga te speel toe hy die naasvoorlopers, Primroses, in ’n Gemeenskapskild-wedstryd met 30-26 geklop het nadat hy rustyd reeds 10-6 voorgeloop het.
Die wedstryd self tussen twee van Worcester se oudste klubs het groot belangstelling gaande gemaak. Alberts (gestig in 1896) en Primroses (1928), wat ná etlike jare van nie-aktiewe deelname nou weer behoorlik die stem dikmaak, lok nou stadig maar seker weer destydse ondersteuners terug.
Alberts, met die windvoordeel tot sy beskikking, het die pap van meet af aan lekker dik aangemaak en in die opponente-gebied geboer. Dit het vrugte afgewerp toe die haker, Danfred Januarie, in die hoekie oorbars. Die losskakel, William Ryneveldt, het boonop met die moeilike doelskop geslaag en sy span met 7-0 laat voorloop. Primroses het onmiddellik teruggeveg toe die regtervleuel, Leaching Adams, ná ’n praglopie deur skitterende dekverdediging kort voor die doellyn gestuit is. Alberts het hierna sy voorsprong gerek toe Ryneveldt met ’n netjiese strafskop slaag. Primroses het hul eerste punte gekry toe die linkervleuel, Yan Haupt, die kol met ’n strafskop tref en kort voor rustyd met nog een suksesvol was, wat Alberts teen rustyd 10-6 laat voorloop het.
Primroses het kort ná rustyd nog nader gekruip toe Haupt met sy derde strafskop slaag. Alberts het egter sy voorsprong verder vergroot toe die plaasvervanger-heelagter Keanu Messias ná omgekeerde balbesit in die hoekie oorgegaan en Ryneveldt boonop pragtig uit die hoekie verdoel het. Die telling was 24-9 toe die linkervleuel, Duwayne Atkins, uit sy eie gebied begin hardloop en onder die pale gaan afrond. Die doelskop deur Ryneveldt was ’n blote formaliteit.
Roses het egter nooit bes gegee nie en nadat ’n bal tussen twee Alberts-spelers losgespat het, het die heelagter, Marco Alberts, dit opgeraap en ná ’n lopie van 60 m onder die pale afgerond. Haupt se doelskop het die agterstand tot 16-24 gekrimp. Primrose, wat behoorlik aangevuur was, het nog ’n sewepunter aangeteken toe die stut Llewellyn Eftha met brute krag oor is. Haupt se doelskop het die agterstand na 23-24 laat krimp. Primroses het hierna die eerste keer in die wedstryd sy neus voor gekry toe Haupt met nog ’n strafskop slaag. Ryneveldt het egter kort hierna Alberts weer laat voorloop toe hy ook met ’n strafskop sukses behaal. Kort voor die einde het Messias die wedstryd vir sy span geswaai toe hy met ’n strafskop van net meer as 40 m geslaag het.. In die hoofvoorwedstryd het Alberts se naasbestes Primroses B 19-0 geklop danksy drieë deur die stut Arno Opperman (2) en slot Dale Sylvester terwyl die losskakel, Randall Bruintjies, met twee doelskoppe geslaag het.




