Onwettige dobbelmasjiene is ’n verskynsel wat reg oor die land aangemeld word, en so ook in Worcester, waar dit al hoe meer in kafees en winkels opduik.
Voorbeelde van dobbelmasjiene sluit in enige masjien-speletjie waar geld gevra word om dit te speel en die speler bykans nooit kan wen nie weens die masjien wat gemanipuleer word.
Wat hierdie dobbelmasjiene onwettig maak, is die feit dat die aankoper van die masjiene nie die perseel waarop die dobbelmasjiene staan, by die nasionale dobbelraad registreer nie, sê AO Grant Stynder, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.
Nog ’n aspek wat dit onwettig maak, is dat die masjiene self ook onwettig is omdat dit nie by ’n gelisensieerde sakeonderneming gekoop word nie.
Volgens Stynder is die koop en gebruik van dié masjiene oral aan die toeneem – ook in Worcester.
“Ons [Worcester se polisiekantoor in die middedorp] het reeds verlede week [19 tot 25 Junie] onwettige dobbelmasjiene van vier persele verwyder,” het hy gesê.
Hierdie vier persele sluit almal “spaza-winkels” in Riverview, Roodewal en Zwelethemba in.
Volgens Stynder word ondersoeke om en by elke twee maande deur die Worcester-polisie gedoen om te kyk waar onwettige dobbelmasjiene opduik, waarna die polisie dan die Nasionale Dobbelraad kontak en hulle na die persele vergesel om op die masjiene beslag te lê.
Voorbeelde van onwettige dobbelmasjiene sluit in “Chinese masjiene met roulettespeletjies” sonder die nodige papierwerk.




