Inwoners van Worcester is bekommerd oor gevalle van inbraak, diefstal en roof wat die afgelope ruk toeneem.
Emmugean Kemp (26), ’n werknemer by Woolworths in die Mountain Mill Mall, stap elke dag dieselfde roete van haar huis in Parkerstraat tot naby die treinstasie se duikweg en dan deur die Bergsig-woongebied tot by die winkelsentrum waar sy werk.
“Maandag (12 September) was ’n doodgewone oggend. Ek het opgestaan, gereed gemaak vir die dag, my Bybel oopgeslaan en gebid. Ek het toe gestap soos wat ek altyd stap, maar toe ek by die duikweg kom, het my dag heeltemal verkeerd uitgedraai,” vertel sy aan Standard.
Toe Kemp naby die treinstasie kom, merk sy toe op dat ’n verdagte man in die duikweg staan en rookwalms soos stoom by dié deurgang uitkom. Sy het ’n man wat met sy hond gestap het, genader en gevra om haar deur die duikweg te begelei.
“Ek het ’n voorgevoel gehad dat iets nie reg is nie. Die man was gaaf genoeg en het my deur die duikweg gehelp en ek het verder gestap. So ’n paar minute later het ek opgemerk iemand agtervolg my en kom al nader. Ek het sommer net geweet.”
Die man wat sy beskryf as donker van kleur, met dik hare, ’n rooi mus en tatoeëermerke aan sy gesig, het haar toe uit die duikweg agtervolg en haar gekonfronteer.
“Hy pluk toe ’n mes uit en vra: ‘Waarom het jy die wit man jou laat help deur die duikweg?’ Ek het nie geweet wat om te doen nie. Hy het toe voortgegaan en gesê ‘Gee my jou selfoon. Wat is jou pinkode?’ en wraggies die foon gevat en seker gemaak dat hy in die foon kan inkom.”
Sy sê sy was erg geskok en het die ondervinding net verbygewens.
“Hy het toe gevlug en ek het gehardloop. Ek het hulp gesoek by ’n vrou wat in haar tuin besig was en sy het gesê ek moet na haar vriendin toe gaan net af in die pad naby Ywam – hulle sal my help. Soos ek toe hardloop, sien ek ’n polisiebakkie en ek keer hulle toe voor. Hulle het my ingelaai en ons het die man gaan soek, maar hy was reeds weg.”
Sy sê sy ly nou aan vrees en is steeds geskok ná die voorval.
“Ek bewe steeds. Jy sien dit in flieks gebeur en hoor stories, maar tot dit met jou gebeur – dán word dit eers jou realiteit.”
Sy het Dinsdag 14 September haar selfoon teruggekry en Kemp kan nie meer dankbaar wees nie.
“Die man het al sy eie foto’s op my selfoon gelaai en toe sien ons deur my ma se foon dat my foto’s verdwyn het. Kort daarna het sy gesig oral begin opduik en ons kon hom met die hulp van vriende en die polisie by ’n verlate plaashuis buite die dorp opspoor. Hier het hulle sommer ’n klomp gesteelde goedere, soos fietse, ook gevind.”
In ’n afsonderlike voorval is nog ’n inwoner van Roodewal, Margaret Joseph, beroof. Sy het onlangs oudergewoonte by ’n winkel naby haar huis ’n paar goedjies gekoop, maar toe sy by die huis kom en haar selfoon soek, was dit net weg.
“Dit was in my baadjie se sak en kon nie uitval nie. Daar was redelik mense in die winkel en daar was ’n groep tienerseuns wat heeltyd om my gehang en naby my geloop en grappies gemaak het. Die een het in my vasgeloop en net gelag, toe is hulle by die winkel uit. Nooit het ek gedink om te kyk of ek nog alles by my het nie.”
Sy is toe dadelik terug na die winkel en het saam met die eienaar die beeldmateriaal nagegaan en gesien een van die seuns het haar foon uit haar sak gehaal en dit toe voor by sy broek ingedruk.
“Die winkeleienaar het my dogter se nommer geneem en my die volgende dag laat weet hy het my selfoon teruggekry. Ek het ook toe met dié seun se ouers ’n ernstige gesprek gevoer,” voeg sy by.
’n Vrou van Worcester, wat haar verhaal op voorwaarde van anonimiteit deel, sê sy het die afgelope naweek ’n groot skok weg nadat mense by haar huis ingebreek het.
Dit is ook nie die eerste keer dat boewe hierdie eiendom geteiken het nie. ’n Soortgelyke voorval het sowat twee jaar gelede ook hierdie gesin met skade gelaat terwyl talle artikels gesteel is. Geld, skootrekenaars en allerlei artikels is uit die huis geneem nadat booswigte die skuifdeur met ’n graaf oopgedwing het.
Die plaaslike polisie maan inwoners om veilig op te tree en altyd op hul hoede te wees vir kwaaddoeners. Hulle stel ook voor dat klagtes so vinnig as moontlik aangemeld moet word en dat die polisie slegs kan help as hulle oor sulke voorvalle ingelig word.
Die polisie het ook voorheen aan Standard bevestig dat hulle veral in die Worcester-omgerwing meer patrollies ry en klopjagte uitvoer, wat tot suksesvolle inhegtenisnemings lei, maar meer gevalle van veral inbraak word aangemeld.
Verder meen hulle mense moet verkieslik nie alleen in gebiede wat as onveilig gebrandmerk is, loop nie. Lig ook jou bure in as jy met vakansie gaan.




