Ashlon Thomas (links) en Clint Aplon (regs) saam met hul drama-onderwyser van Worcester Senior Sekondêre Skool, Lloyd Davids, wat ’n liefde vir toneelspel onder beide akteurs gekweek het.

Credit: SYSTEM

Twee bekende akteurs van Worcester, Ashlon Thomas en Clint Aplon, gaan binnekort die Thomas Art Network-dramasentrum in Worcester open en ’n musiekblyspel in die stadsaal opvoer om die opening te vier.

Thomas en Aplon is bekende gesigte op televisie, met Thomas wat tans te sien is in Sodium Day op Netflix, en Aplon eers in 7de Laan en nou in Arendsvlei op KykNet.

Dié duo het besluit om ’n dramasentrum in Worcester te open en sodoende ’n liefde vir toneelspel te kweek onder veral die jeug.

Volgens Thomas sal die sentrum meestal gratis opleiding bied aan inwoners van Worcester en hulle touwys maak oor alles van teater, musiekblyspele, televisiewerk en hoe om in sepies en rolprente te verskyn.

Thomas het telefonies aan Standard verduidelik dat daar nog nie ’n presiese datum is vir die musiekblyspel nie, maar dat dit wel in Julie gehou gaan word.

Die dramasentrum beskik ook nog nie oor ’n vaste huis nie, maar gaan wel oop wees vir drama-afrigting.

Thomas verduidelik dat die musiekblyspel Van ’n klein dorpie handel oor “eenvoudige mense met eenvoudige lewens” wat ’n droom het, uitdagings ervaar voor hulle die droom kan bereik, maar die struikelblokke oorkom en ’n naam vir hulself maak.

Die blyspel sal ’n mengsel van dialoë, sowel as instrumentele en nie-instrumentele musiek wees, met die prys van kaartjies wat binnekort aangekondig sal word.

Volgens Thomas sal die dramasentrum meestal gratis wees om alle kinders, en ander inwoners, ’n kans te gee vir drama-opleiding en miskien die bekendstelling van ’n nuwe loopbaan, nie net vir dié wat dit kan bekostig nie.

Die dramasentrum het wel steeds finansiële ondersteuning nodig, buiten ’n klein staatsubsidie wat ontvang word, en hulle doen ’n beroep op besighede en individue vir finansiële bydraes.

Beide Thomas en Aplon is oud-leerders van Worcester Senior Sekondêre Skool, waar Thomas is 2013 gematrikuleer het, en Aplon in 2011.

. Vir meer besonderhede oor die dramasentrum of om ’n finansiële bydrae te maak, kontak beide akteurs per e-pos by ashlonthomas@gmail.com of clintaplon@gmail.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article