Agri’s Got Talent (AGT) is terug vir die 12de seisoen – en inskrywings is nou amptelik oop! As jy in die vrugte-, wyn- of sitrusbedryf werk en ‘n passie vir sang het, is dit jou kans om te skitter.
AGT is nie net ‘n sangkompetisie nie – dit is ‘n lewensveranderende reis van selfontwikkeling, selfvertroue en
gemeenskapsbemagtiging.
Die projek is in samewerking met Hortgro, die Sitruskwekersvereniging, SA Wine, Suid-Afrikaanse Tafeldruif-
vereniging en die Wes-Kaapse Departement van Landbou. Enige landbouwerker wat in die sagtevrugte-, tafeldruif-, sitrus- en wynbedrywe werk, voltyds of seisoenaal, reg oor Suid-Afrika, kan inskryf.
Hoekom moet jy vir AGT 2025 inskryf?
Finaliste ontvang professionele stem- en sosialemedia-vooropleiding, woon selfontwikkelingswerksessies by, kry “make-overs” en neem deel aan ‘n oplei-
dingsweek van 14-19 September in die Wes-Kaap. Dit alles lei na ‘n skou-
spelagtige AGT-gala-eindronde waar die Top-10 voor ‘n beoordelaarspaneel en die gehoor op die verhoog optree.
Baie voormalige deelnemers het persoonlik, kreatief en professioneel gegroei op maniere wat hulle nooit sou kon voorsien nie – danksy hul deursettingsvermoë en die platform wat AGT bied.
Victor Fredericks, ‘n produksievoorman op die plaas Speenvlei in Wolseley, is met ‘n pen in sy hand gebore. Hy is ‘n gepubliseerde skrywer en liedjieskrywer wie se literêre werk sy debuut-
digbundel Ons stryd was ook in Afrikaans (2001), Voetpad oor Witzenberg (2020), en Laat Pa vertel (2022) insluit. Hy was ‘n Top-10-finalis in AGT 2018 en ‘n uitgeligte kunstenaar by AGT se 10-jaar-reünie-konsert in 2023 in die ikoniese Afrikaanse Taalmonument se amfiteater.
Sedertdien het Victor by die ATKV-
mentorskapprogram aangesluit en
enkelsnitte opgeneem, insluitend
“Boland Blues” en “Blackberry Juice & Jin” (uitgereik op 2 Mei). Op 16 Mei sal hy saam met Corlea Botha, Eulanda Wagner en Riku Lätti in die Daisy Jones-teater optree.
“AGT was vir my ‘n goeie wegspringblok om groter dinge te bereik,” sê Victor. “Moenie dat jou omstandighede jou terughou nie. Gebruik elke geleentheid, glo in jouself en werk hard.”
Jason Baartman, ‘n produksie-assistent by Laastedrift in Ceres en oud-deelnemer aan AGT, inspireer steeds. Hy is in 2023 vir die gesogte ATKV-Crescendo-program gekies. Teen 2024 het hy na AGT teruggekeer – nie as deelnemer nie, maar as mentor en beoordelaar. Hy het ook vir die tweede keer saam met Frieda van den Heever by die Woordfees opgetree – ‘n ervaring wat hom nou baie na aan die hart lê.
In 2025 was hy weer op die Oesfees- verhoog en het aan die Suidoosterfees- kompetisie deelgeneem. Hoewel hy nie gewen het nie, het hy vriendskappe en kreatiewe vennootskappe gevorm, wat ‘n leeftyd sal hou. “Daar is soveel mense wat in my en my musiek glo,” sê Jason. “Ek kan nie nou opgee nie. Gryp jou drome vas – want as jy wakker word, is hulle dalk weg.”
Chanthel Boonzaaier, naaswenner in AGT 2024, tree nou internasionaal op. Sy het die wingerde van Franschhoek vir die gasvryheidsverhoë van Griekeland verruil, waar sy in ‘n trio genaamd “Legends” optree en Whitney Houston-liedjies saam met kunstenaars wat hulde bring aan Wilson Pickett en Lionel Richie, sing.
Chanthel beskryf AGT se opleidings-
week as ‘n oomblik van diep transformasie. Met ondersteuning van Procare se Petra Nel het sy weer helderheid en selfvertroue gekry oor hoe sy haarself in die wêreld wil wys.
“AGT het my gehelp om die mens raak te sien na wie ek streef om te wees,” sê sy.
AGT is ‘n viering van diversiteit,
talent en trots in Suid-Afrika se landbousektor.
Deelnemers word aangemoedig om in hul huistaal en in enige genre te sing – van pop, gospel en R&B tot rap of klassiek. Of jy nou by die kerk, in die pakstoor, in die wingerde of in die stort sing – AGT wil jou stem hoor!
Inskrywings sluit op 31 Julie.
Om in te skryf, stuur ‘n stemboodskap (maksimum drie minute) via WhatsApp na 082 372 1577 of stuur jou opname per e-pos na info@agrisgottalent.com met jou volle naam, geboortedatum, selfoonnommer, naam van jou plaas / kelder / pakstoor, posbeskrywing, hoe lank jy daar werk, naaste dorp, toesighouer se naam en selfoonnommer, asook waar jy van AGT gehoor het.
• Volg Agri’s Got Talent op Facebook by facebook.com/agrisgottalent of besoek www.agrisgottalent.com vir nog inligting.
Laat jou stem gehoor word. Agri’s Got Talent 2025 kan jóú oomblik wees!




