Nie net vier die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) vanjaar ons 141ste bestaansjaar nie, maar ons NID Volwasse Sorg-afdeling (Lewensruimte) vier hierdie maand 44 jaar van diens aan meervoudig-gestremde Dowe volwassenes.
NID Volwasse Sorg is ’n besondere leefwêreld. Hier kan elke inwoner ten spyte van hul unieke behoeftes, floreer binne ’n vreedsame en doof-vriendelike gemeenskap. Terapeutiese aktiwiteite en ontwikkelingsprogramme bevorder selfvertroue en individuele groei, en by residensiële sorg word hulle ondersteun en in ’n liefdevolle, huislike atmosfeer gehuisves.
Jenny is 26 en meervoudig-gestremd. Aangesien daar geen stimulasie vir Jenny in haar gemeenskap was nie, het sy baie vereensaam as die enigste Dowe persoon, en is sy in 2017 by NID opgeneem. As ’n aanvanklik skaam en teruggetrokke meisie het Jenny haar plekkie in die son by NID Volwasse Sorg gevind. Sy het aan die begin geleer om kralewerk te doen, te brei, hekel en borduur, en tans skakel sy in by die kombuisspan. Vandag staan sy met selfvertroue haar skoene vol en leef met ywer.
Juan is 37 en het doof geword as gevolg van breinvliesontsteking as baba. Juan was slegs vir ’n baie kort tydjie in ’n skool en het vanjaar by NID aangekom sonder enige vorm van kommunikasie. Hy het dadelik gebaretaalklasse begin bywoon en stadig maar seker is sy uitdrukkings besig om te verander na verstaanbare gebare. Juan is baie hulpvaardig en leergierig en sy hande staan vir niks verkeerd nie. Hy skakel in by die houtwerkafdeling en neem met oorgawe aan al die aktiwiteite deel.
By NID word lewensveranderende werk soos hierdie verrig en is daar nog vele ander suksesstories soos Jenny en Juan s’n. Hierdie kosbare suksesverhale sou egter nie moontlik wees sonder die ondersteuning van mense soos u nie. Met u ondersteuning kan ons dié werk met groot geloof, vertroue en ’n geruste hart voortsit. Deel asseblief saam met ons in elke suksesstorie en mylpaal deur ’n spesiale bydrae te stuur ten bate van Dowes en mense met gehoorverlies by NID. Namens al die “Jenny’s” en “Juan’s” wat sedert 1881 gehelp is en nog gehelp sal word, sê ons by voorbaat baie, baie dankie.
Bankbesonderhede:
Rekeningnaam: NID Ontwikkeling / Bank: Absa / Rekeningnommer: 911 845 2209 / Verw: WS (u naam en van). Stuur asseblief bewys na fr.nid@nid.org.za
NID Volwasse Sorg het tans ook beskikbaarheid vir die opname van dagsorg (nie-inwonende) kliënte.
Kriteria: Verstandelik gestremde of meervoudig-gestremde volwasse persone (tussen 18 en 60 jaar) wat kan baat vind by die daaglikse ontwikkelingsprogram. Voorkeur sal gegee word aan Dowe verstandelik gestremdes. Vir meer inligting en kostes, kontak Hermie Jordaan (maatskaplike werker) by 023 342 0757 of socialwork.care@nid.org.za.


