“Ek hoop my storie inspireer mense – veral kinders.”
Dit is wat Hilde O’Neil, ’n advokaat, hoop haar heel eerste gepubliseerde werk vir lesers sal doen.
Haar boek, Reis na die Suiderland, het sy eintlik al jare gelede geskryf, maar dit is nou eers gepubliseer.
“Ek het al ’n klomp goed wat ek geskryf het,” vertel O’Neil.
“Ek het ’n passie vir skryf vandat ek ’n kind was.”
Volgens haar het die stand van dinge in die land hierdie store geïnspireer.
“Die absolute negatiwiteit in Suid-Afrika, by mense se werksplek en selfs by mense se huise sowel as berigte in koerante het my geïnspireer om die storie te skryf. Ons is nou al so gewoond daaraan om net te kla.”
Terselfdertyd sê sy dis haar “hart vir kinders” wat lewe gegee het aan die boek.
“Ek het ’n hart vir kinders en dit is een van die redes hoekom ek iets mooi vir kinders oor ons land heen wou skryf, want ons kinders raak met al die negatiwiteit ook al soos ons. Hulle is nie gewoond daaraan nie.”
Die storie gaan oor ’n feetjie wat op ’n eiland woon.
“En eendag spoel ’n bottel met ’n briefie op die strand uit waar net meisiefeetjies mag speel. Die briefie is ’n uitnodiging na ver oor die see. Een van die feetjies, Didi, is dan dapper genoeg om haar hand op te steek om die rit aan te durf. Die ander feetjies help haar om ’n boot te bou, maar die reis is nie maklik nie. Aan die einde van haar reis ontmoet sy ’n ander feetjie wat vir haar wag – die een wat die uitnodiging gestuur het. Die tweetjies verken dan al nege van Suiderland se provinsies en ontdek die mooi van elke provinsie.”
Die storie was vir lank net ’n nege-vers-gedig.
“Maar ek het toe die begeerte gekry om dit in ’n langer storie om te skep. Ek het dit toe na ’n uitgewer gestuur, maar hulle het dit nie aanvaar nie. Naledi Uitgewers het egter binne ’n dag of twee teruggekom na my en my ook aan die illustreerder, Erna van Der Merwe, voorgestel. Sy het die mooiste illustrasies vir die boek gemaak.”
O’Neil, ’n ma van vier, is baie opgewonde oor die publikasie.
“Dis so unreal. Dit het nog nie ingesink nie. Ek het nog nie die werklike boek in my hand gehou nie – dalk wanneer ek dit begin glo. Ek is regtig baie bevoorreg. Dit laat my warm aan die binnekant voel.”
Sy sê met haar kenmerkende positiwiteit dat nog boeke van haar in die toekoms sal kom.
. Kontak Hilde O’Neil op Facebook om ’n boek vir die Kerskous te koop.





