AO Kobus Pretorius tree ná 41 jaar uit die polisie. Foto:

Credit: SYSTEM

’n Oud-Spoorwegpolisieman wat 41 jaar en drie maande diens in die SA Polisie het, het verlede maand afgetree.

AO Kobus Pretorius het op 29 Desember 1981 by die destydse Spoorwegpolisie aangesluit.

“As jy by die Spoorwegpolisie aangesluit het, was jy verseker van jou werk. My pa het ook destyds al jare vir hulle gewerk,” het Pretorius gesê.

Nadat hy sy opleiding by die Spoorwegpolisiekollege voltooi het, was hy vir ’n rukkie in Germiston gestasioneer en toe weer in Noupoort, waarna hy in 1986 na Worcester verplaas is.

“Ek het eintlik hier in die Hexvallei grootgeword en aan die Hoërskool Montana gematrikuleer.”

Nadat die Spoorwegpolisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens in 1986 saamgesmelt het, het Pretorius sy diens in 1987 by die SAPD voortgesit. Hy was van 1992 tot 2003 ’n speurder. Daarna het hy sy loopbaan in verskeie departemente voortgesit tot sy uittrede verlede week.

“Ek het die 11 jaar as ’n speurder bitter baie geniet. Dit was die beste jare van my loopbaan. Ons was ’n goeie span saam en het baie hard gewerk. Gesonde mededinging het tussen die manne geheers en dit het net meer goeie werk gelewer,” sê Pretorius.

Vir nou is die voormalige adjudant­offisier bly om by die huis te wees.

“Ek glo ek gaan die werk mis, maar ek is vir eers bly om by die huis en afgetree te wees. Dit gaan gewis ’n aanpassing wees, maar ek is dankbaar ek kan dit doen. Ek is deur die Here se genade nog hier en ek is gesond. Die polisie was net goed vir my. Ek gaan my kollegas mis, maar ek dink hulle gaan my meer mis.”

Hy sê hy het nog nie planne vir sy aftrede nie. “Al spesiale projekte wat op die horison is, is dié wat mos maar van tyd tot tyd by die huis opduik.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article