“If you mention the term ‘ADHD’ or ‘Ritalin’ at a dinner party, you are bound to provoke a lively debate. Try it. You would have much less fun with, say, diabetes and insulin, or asthma and inhalers.” Dr B Belsham, Pediater
Vir baie ouers is ADHD, in Afrikaans bekend as AGHS (aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom), ’n agterdogtige diagnose; vir sommige is dit ’n gier en ander bevraagteken die voorskryf van medikasie vir ’n toestand wat “nie bestaan het” toe hulle kinders was nie. Hoewel die geskiedenis nie die laaste aantyging met ’n naam van ’n diagnose kan regverdig nie, is die konsep van hiperaktiwiteit reeds in die 18de eeu in die mediese literatuur beskryf.
Volgens die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders kan tussen drie groepe ADHD onderskei word. Eerstens word verwys na die gekombineerde tipe wanneer iemand oorheersend probleme ondervind met aandagafleibaarheid sowel as hiperaktiewe- impulsiewe gedrag. Tweedens kan iemand oorheersend met aandagafleibaarheid presenteer en derdens word na die oorheersend hiperaktiewe- impulsiewe gedrag verwys.
Baie ouers neem aanvanklik oormatige beweging waar wanneer hul kind ’n kleuter is, tog is dit moeilik om merkers voor vierjarige ouderdom van die norm te onderskei. ADHD word meestal in die grondslagfase geïdentifiseer. In Graad RR en R is hiperaktiwiteit die primêre manifestasie. Aandagafleibaarheid word meer prominent in die grondslagfase. Gedurende adolessensie word die tekens van hiperaktiwiteit (soos hardloop en klim) minder en kan dit beperk word tot vroetel en ’n innerlike gevoel van rusteloosheid of ongeduld. Gedurende volwassenheid bly impulsiwiteit saam met aandagafleibaarheid en rusteloosheid problematies, selfs al het die hiperaktiwiteit afgeneem.
Juis dít was die fokus van ’n praatjie van dr. Nicolaas de Villiers (pediater) op 29 Augustus by Langerugskool; ook die aanwesigheid van ADHD by ouers van kinders met ADHD en hoe dit die behandeling van hierdie toestand beïnvloed.
Farmakologiese medikasie, terapie, gedragsmodifikasie- en ouerleidingsprogramme, asook ’n gesonde dieet en oefening word vir die behandeling van ADHD aanbeveel. Dit is belangrik om elke aspek van hierdie intervensie in die behandelingspakket van ADHD in te sluit, aangesien medikasie nie hierdie toestand kan genees nie, maar slegs sleutelsimptome soos onoplettendheid, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit kan verbeter.
Dr. de Villiers het verduidelik hoe moeilik dit vir ’n ouer is om sy / haar kind se ADHD te bestuur wanneer hulle self uitdagings ten opsigte van hierdie diagnose beleef. Soms is ouers selfs onbewus van hul eie diagnose. Ouers van kinders met ADHD word daarom aangemoedig om met ’n geneesheer te gesels indien hulle in hierdie afdeling val. Dit is belangrik dat die ouer ook behandeling ontvang om hom of haar te help ten einde hul kind optimaal te kan ondersteun.
Erick Strydom (onderwyser) het tydens dr. De Villiers se praatjie vertel van sy eie pad met ADHD en beaam hoe belangrik ’n holistiese benadering tot behandeling is. ADHD is ’n inderdaad ’n onderwerp wat ouers in hewige debatte kan wikkel. Erick kan egter ook getuig dat kinders én volwassenes met hierdie toestand die lewe inkleur met kreatiewe denke en hope energie wat die wêreld ’n opwindende en interessante plek maak.
ADHD-maand word in Oktober gevier en ons het ekstra waardering vir die bydrae van mense met ADHD tot die samelewing.• Dr Susan du Toit is die opvoedkundige sielkundige by Langerugskool




