Natesha Ayford, die ACVV se nuwe streeksbestuurder, is vol planne vir die organisasie. Foto:


Die plaaslike ACVV se nuwe streekbestuurshoof se fokus is om gesinne en families bymekaar te hou.

Natesha Ayford het op 1 Maart in die pos begin en is reeds volstoom in die streek besig. Sy het vir ’n lang tyd as ’n maatskaplike werker gewerk voordat sy besluit het om by die bestuur betrokke te raak.

“Hierdie is my passie – om in ’n leierskaprol leiding en toesig aan maatskaplike werkers te bied. Ek het ná vyf jaar in die veld as ’n maatskaplike werker besluit dis nou lank genoeg en begin werk vir hierdie pos. Ek geniet dit meer om by ’n organisasie sonder winsbejag, soos die ACVV, te werk. Hier is meer struktuur in wat ons doen en hoe ons die gemeenskap dien.”

Ayford wil graag met die verskeie rolspelende organisasies in die streek begin werk. “Ek wil graag netwerk met al die belanghebbendes in die streek begin doen om beter verhoudings tussen die organisasies te begin bou en sodoende verskeie probleme saam aan te pak.”

Een van haar ander doele is om gesinne en families bymekaar te hou.

“Ons fokus hoofsaaklik op kinderbeskerming asook intervensie. Ons plaas ook fokus op voorkoming, om gesinne weer heel te maak en kinders by hul families te hou.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article