Die omstrede Aarto-wet is vroeër die maand deur die konstitusionele hof goedgekeur.
Volgens die konstitusionele hof voldoen die strafpuntstelsel vir verkeersoortredings aan die vereistes van die Grondwet.
Tog het die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) verlede jaar daarin geslaag om die wet deur middel van die hooggeregshof ongrondwetlik verklaar te kry.
Aarto, die wet op Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings, kan daartoe lei dat bestuurders hul rybewys kan verloor.
Die departemente van vervoer het die uitspraak verwelkom.
“Die instelling van hierdie wet oor die land heen is reeds 25 jaar hangende. Hierdie beslissing baan die weg vir die instelling van Aarto. Ons sal vinnig beweeg om die instelling daarvan sonder versuim oor die land heen uit te voer,” het Sindisiwe Chikunga, minister van vervoer, gesê.
Stefanie Fick, uitvoerende direkteur van Outa, het die volgende oor die hof se beslissing gesê: “Die konstitusionele hof het nie saamgestem met Outa se standpunt dat die wetgewing onregmatig inbreuk maak op die eksklusiewe uitvoerende wetgewende bevoegdheid van die plaaslike regerings soos in die grondwet beoog, wat plaaslike regerings verhinder om hul eie sake te reël nie. Ons is natuurlik baie teleurgesteld aangesien ons nie hierdie reis begin het om te verloor nie, maar die hoogste hof in die land het gepraat.
“Outa is egter bekommerd dat die regering sal sukkel om Aarto te implementeer weens die rompslomp en moontlike korrupsie. Aarto het reeds versuim om padveiligheid te verbeter. Bloot wetgewende beleid maak dit nie rasioneel of werkbaar nie.
“Regerings ly dikwels aan ’n valse oortuiging dat as wette en regulasies in plek is, die mense eenvoudig daaraan sal voldoen. Irrasionele of onpraktiese wette en ’n gebrek aan deursigtigheid lei tot terugstoot van mense wat stelsels onregeerbaar maak. Die hartseer werklikheid is dat die regering begin ly aan ’n krisis van legitimiteit wanneer dit nie sy mag oor mense kan uitoefen deur sy eie wetgewing en beleid doeltreffend af te dwing nie.
“Outa glo dat maatreëls om padveiligheid te verbeter en sterftes te verminder dringend nodig is. Ons glo egter nie die Aarto-wet sal dit bereik nie. Dit is net nie prakties moontlik nie. Suid-Afrika het effektiewe prosesse nodig wat deur billike beoordeling moontlik gemaak word wat aan die grondwet voldoen.”
So sal die strafpuntstelsel werk:
– Motoriste kry strafpunte vir oortredings.
– Bestuurders kan ’n maksimum van 15 punte kry.
– Ná 15 punte kan motoriste se rybewys vir drie maande opgeskort word elke keer dat die 15 punte oorskry word.
– Strafpunte word elke drie maande met een punt verminder as daar geen oortredings in daardie tydperk is nie.
In die geval waar motoriste se rybewys meer as twee keer opgeskort is, word dit gekanselleer en moet die bestuurder weer aansoek doen om leerlingrybewyse.
– Programme om motoriste te rehabiliteer sal geïmplementeer word.
– Bestuurders sal ingevolge die wet die bevindings of straf voor ’n onafhanklike appèltribunaal kan betwis.



