Ongelukke in die streek waarby veral swaar voertuie betrokke was, wek kommer.
Drie ongelukke waarby swaar motorvoertuie in drie dae betrokke was, lê weer klem op padveiligheid in die streek. ‘n Ongeluk Saterdag 9 April tussen twee trokke in Michellspas by Ceres het vertragings veroorsaak. Maandagoggend het twee vragmotors en ’n ligte motorvoertuig reg van voor gebots. Die Ceres-polisie het die twee ongelukke bevestig en gesê daar was geen ernstige beserings nie. Die ongeluk Saterdag het omstreeks 16:40 gebeur en die ongeluk Maandag omstreeks 11:30. In nog ’n swaarvoertuigongeluk het ’n trok Maandagoggend omstreeks 08:00 teen die rotswand in Hexrivierpas vasgery en aan die brand geslaan. Volgens One-Way Towing-insleepdienste is die bestuurder van die trok ongedeerd.
Standard het op 7 April (“Paasnaweek lyk nie goed nie”) berig oor die toename in ongelukke op die paaie en die Wes-Kaap se plan om dit te voorkom gedurende die komende Paasnaweek.
Die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke het Dinsdag 12 April in ’n verklaring motoriste en voetgangers gemaan om veilig te bly tydens die Paasnaweek. Volgens die departement moet mense persoonlik verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid neem wanneer hulle naby ’n pad loop.
“Moenie drink en loop nie. Moenie oorfone dra wanneer jy ’n pad oorsteek nie. Kruis slegs paaie waar dit veilig is om dit te doen. Dra opvallende klere, veral in die nag. Motoriste kan jou net vermy as hulle jou kan sien.”
Die departement sê om moeg te bestuur, is so gevaarlik soos dronk bestuur.
“As jy moeg is, trek af en rus. Op ’n lang reis, beplan om elke 200 km of twee uur ruspouses op veilige plekke te neem.
“Neem verantwoordelikheid vir jou eie veiligheid en vir die veiligheid van ander deur nooit te bestuur as jy moeg is nie,” sê hulle. Motoriste en voetgangers word gemaan om nie toe te laat dat hul aandag afgelei word wanneer hulle bestuur of loop nie. Geen telefoonoproep of boodskap is so belangrik dat dit die moeite werd is om jou lewe of ander s’n in gevaar te stel nie.


